Sunday, 2 October 2016

Bring asseblief dié polemiek tot 'n einde

Mnr. Kühn (DB,24.09), my opregte verskoning aan u, want ek is, volgens "iemand...die ou wat jou so links en regs 'Kühn' in sy briewe". Job (6:25) sê juis: "Opregte woorde maak nie seer nie..." Waarom anders sou u "iemand" aanhaal as u nie te na gekom voel oor die weglating van u eie mnr.-titel nie? Daarom my verskoning.

Mnr. Kühn (DB, 20.09;24.09) dring herhaaldelik daarop aan dat ek met hom moet "gesels". Ek voldoen dus aan sy versoek  -   in parodietaal   -   waarvan ek seker is dat hy dit sal begryp. Ek gesels graag met hom oor die Praat Saam-saampraatboom, huisvestende 'n groot verskeidenheid van taalvoëls; almal kwetterende, kwelende en tjirpende   -   sommige op hoër; ander op laer noot.

En toe op 'n dag gebeur daar iets voëlvreemds in dié saampraatboom. Die luiddrugtige geelvinke eis onverbiddelik van die mossie om op te hou met sy tjirp, en, teen sy mossienatuur   -   vir vinkbevrediging   -   soos húlle moet kwetter en kweel; 'n kakofoniese voëlgebrabbel beswaarmakende teen die mossie se weiering om vink-konformerende geluide te maak.

Dié "windmakerige" (Doem) mossie, sittende op sy "hoogdrawende" (Margaret) saampraattak, "gesels" nie met die geelgeveerdes nie, maar "spreek hulle toe" (mnr. Kühn). Die boodskap aan die mossie: jy mag nie langer hier jou mossie-self wees nie. Wees wat óns wil hê jy moet wees. Einde van my parodie-gesels.

Mnr. Kühn, ek wonder of Hannes Slabbert daarme genoeë neem dat u ons twee by herhaling teen mekaar afspeel (DB,08.09;30.09) ; ek beslis nie. Dit is van 'n verleentheidsaard, en u sê dat u bedoeling nie "persoonlik" is nie?

Soos die vrou "met hande-verwringend gebaar" in A.G.Visser se "Die Ruiter van Skimmelperdpan", vra ek ook: "Waarom rus jy nie,rus jy nie...altyd maar weer...?" Kan dié polemiek asseblief nou maar beëindig word?                (ngn)









No comments:

Post a Comment