Tuesday 14 November 2017

Max verveel met sy kritiek op Afrikaners




Max du Preez besit die vermoë om Afrikaners wat van hom verskil grensloos te irriteer met sy volgehou aanvallende kritiek soos ook nou weer blyk uit sy "Afrikaners is nie spesiaal" (14.11). (Wanneer het Afrikaners gevra om 'n buite-grondwetlik spesiale posisie in SA?) Hierin gryp hy Swart Maandag van 06.11 se protes teen plaasmoorde as stok om Afrikaners mee te slaan.

Hy sê: "Ek is 'n Afrikaner...'n nasaat van Voortrekkers en Boerekrygers." Wie wil hy hiermeee beïndruk, en maak hy afkoms tot waarborg? Baie Afrikaners kan dieselfde sê. Aartskommunis Bram Fischer was die seun van die konserwatiewe Afrikaner-premier van die destydse Oranjerivier-kolonie (1907-1910), Abram Fischer. Nee, afkoms bied geen waarborg nie.

Max sê: "Ek is 'n ingeligte, denkende mens (wat)...die geskiedenis...ontleed en verstaan." Impliseer hy dat ander nie ook ingelig denkend en tot analise en begrip in staat is nie? Hoe korrek is sy "ontleding" as hy geen blyke toon van die bestaan van 'n Afrikanertipologie, waarvan hy slegs een tipe verteenwoordig, met ook ander tipes soos die volkse Afrikaner oor wie se koppe hy voortdurend vurige kole van kritiek uitgiet?

En hoe goed "verstaan" hy ons geskiedenis as hy na die ou landsvlag as "apartheidsvlag" verwys, 'n vlag wat na 'n lang parlementêre stryd in 1928 as Unievlag aanvaar is   -   20 jaar vóór die apartheidsbedeling   -   waaronder ook Afrikanerbloed gevloei het vir die vryheid van ander tydens WO2 en die Koreaanse Oorlog? Max is histories opportunisties. Net politiek korrektes verwys na 'n "apartheidsvlag".

Soos vele ander, ly ook Max aan oikofobie. Simptome van dié fobie is 'n selfafkeer en 'n "weg-met-ons" mentaliteit. Oikofobe toon 'n sterk neiging om hulle toegewend aan te pas by eisestellende groeperinge en spoor ook ander aan om dieselfde te doen onderweg na selfvernietiging.

Het ons nie nou al genoeg gehad van Max se vervelige getokkel op sy eensnarige Afrikanerkritiek-instrument nie?                 (ngn)









No comments:

Post a Comment