Monday 11 December 2017

Laat ons trou bly aan die Gelofte




Dingaansdag, Geloftedag, Versoeningsdag   -   opeenvolgend beklemtonende name vir die historiese Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838. Om goeie redes heg nie alle Suid-Afrikaners dieselfde betekenis aan dié dag nie.

Naamgewing beklemtoon die sentraalstelling van iets kernbelangrik. As Afrikanernasaat staan die 1838-Gelofte vir my sentraal; vandaar my keuse vir Geloftedag, dog sonder uitsluiting van die versoeningsgedagte.

Beide rolspelers en gebeureverloop van 16 Desember 1838 is histories onomkeerbaar, 'n oorlewingstryd om volksvoortbestaan vir die Trekkers teen 'n Zoeloe-oormag van tussen 12 000 en 15 000 krygers waartydens 'n Goddelike ingryping sou geskied.

Vanwaar die Trekkers en waarom dié 1838-Slag? Selfs by vele Afrikaners is dié geskiedenis nie meer algemeen bekend nie. Na militêre verowering van die Kaap in 1806 word onverbiddelike Engelse gesag gevestig wat 'n vrye en onafhanklike bestaansruimte in die land van hul geboorte aan die Nederlandse koloniste   -   reeds vir 150 jaar gevestig   -   weier. Bekend as Trekkers, sou vele die onsimpatieke Engelse kolonie verlaat. Redes vir dié Trekbeweging is in Piet Retief se "Manifes" in "The Graham's Town Journal" van 02.02.1837 gepubliseer.

Die soeke na 'n nuwe tuiste bring die Trekkers uit by onderhandeling met Dingaan vir grondgebied, kom hulle sy voorwaardes daartoe na, volg 'n ooreenkoms, en word 'n traktaat mede-onderteken. Dingaan pleeg egter verraad deur Retief en sy manskappe te vermoor en etlike kleiner Trekgeselskappe word uitgewis.

Reaksie van Trekkerkant is 'n strafekspedisie teen Dingaan. Andries Pretorius neem hierin die leiding, en voorafgaande tot die Slag 'n Gelofte onder leiding van Sarel Cilliers teenoor God afgelê, wat uitloop op 'n Trekkeroorwinning op 16 Desember 1838.

Hoe vergelyk toestande in 2017 met dié van 1838? Na onderhandelinge (Kodesa) beskik ons oor 'n "traktaat" (grondwet). Die frontaanvalle op die 2017-slagveld is tans strategies-verraderlik veel meer kompleks as net militêr soos in 1838, steeds met dieselfde vernietigende doel. Dit pas ons dus om trou te bly aan die Gelofte.








No comments:

Post a Comment