Monday 4 July 2016

Hoe word dié aanstootlike boektitel verduidelik?

'n Vriend leen my Francois Smith se boek, "Kamphoer", om my mening daaromtrent te hoor. Self sou ek dit nie sommer aankoop nie. Die titel wek by my 'n voorlopig agterdogtige vermoede van die moontlikheid van 'n poging tot Afrikanerverguising soos dié gevind by Robin Binckes.

In "Seks, dwelms en volkspele" vertel Kirby van der Merwe (BY/DB,21.01.12) van Robin Binckes se debuutroman, "Canvas under the sky", waarin Binckes van die allerwalglikste leuens oor die vroegste Afrikanervroue kwytraak in 'n poging tot volksverguising, met Binckes in die posisie van toergids oor die Afrikanerverlede by die Voortrekkermonument.

Binckes sê ons volksmoeders was "wulps en sedeloos...(wat) op die katel in mekaar se arms troos gevind het...(en) 'n vrou wat tydens die Slag van Vegkop twee mans na haar wa lok vir groepswoeps."

My aanvanklike vermoede dat "Kamphoer" dalk in dieselfde Afrikaner-verguisend vulgêre styl van Binckes geskryf mag wees, moet ek, na my lees daarvan, egter laat vaar. Wat wel pla, is die titel van die boek, "Kamphoer". Waarom dié aanstootlike boektitel?

Op die agterblad van die boek vind die voornemende leser die volgende: " 'Kamphoer' is die ware verhaal van 'n vrou wat gedurende die Anglo-Boereoorlog wreedaardig verkrag en vir die aasvoëls gegooi is"   -   die verkragters twee Britse offisiere en 'n Boere "Scout" (Joiner).

Nêrens in die verhaal word enige sweem van aanleidende seksuele aktiwiteite van dié vrou gevind wat haar as hoer tipeer nie. Nee, inteendeel, sy was die tragiese slagoffer onder uiters haglike kampomstandighede. Waarom dan dié karakterskendend aanstootlike voorstelling van 'n verkragtingslagoffer onder die titel van "Kamphoer"? Dalk in navolging van Nico Moolman se boektitel, "The Boer Whore", oor dieselfde vrou, sensasie, leserskok, verkope of literêre vryheid? Kan enige welingeligte dalk lig op dié vraag werp?







No comments:

Post a Comment