Geert de Boon (DB,13.07) laat nie toe dat Albert Nothnagel in sy, "Maak die woord 'Afrikaner' los van ras" (DB,08.07), "met sy redenasies wegkom nie." Hy verwyt Nothnagel dat hy " 'n parlementslid van die verkrampte vleuel van die Nasionale Party (was)...en nie die standpunt gehuldig het dat alle Afrikaanssprekendes Afrikaners is nie."
De Boon vra wat Nothnagel doen "om die skeidslyne tussen wit en bruin en swart Afrikaners op te hef sodat ons in ons taal mekaar as volk- en geesgenote mag vind?" Waar Nothnagel in sy skrywe ras, Afrikaner en taal op dieselfde lyn plaas, voeg De Boon ook die gemeenskaplike volksgedagte daarby.
Nothnagel doen 'n beroep op lesers om die begrip "Afrikaner" te ontdaan van ras. Vir hom is wit, bruin en swart almal Afrikaners. Self het ek geen probleem nie, op voorwaarde dat ek toegelaat word om na myself as 'n Euro-Afrikaner te verwys soos wat swart Amerikaners trots na hulself as Afro-Amerikaners verwys.
Nothnagel se, "Ons moet net 'ras'-suiwer praat", verwar my egter. Die een oomblik "ont"-ras hy Afrikaners, en die volgende "ver"-ras hy die Afrikaanse taal. Wat behels dié "ras"-suiwer praat vir Nothnagel in die lig van die variante van ons taal soos Kaaps-, hibriede-, streeks- en standaard-Afrikaans?
Soos Nothnagel, ontkoppel ook De Boon wit, bruin en swart van enige rassigheid, word almal Afrikaners, en maak hy hulle tot volksgenote. Soos ouer en kind deur gemeenskaplike bande van bloed en geloof gebind word, so word ook 'n volk deur gemeenskaplike bande van bloed, geloof, historiese herkoms, taal en kultuurbeoefening gebind. Is dié bande by wit, bruin en swart identies, of skep hy 'n "kunsmatige volk"?
Beide Nothnagel- en De Boon-denke pas perfek binne die raamwerk van die ANC-transformasiedenke oor die nivellering van alle ras- en kultuurverskille. Dit ontbreek beide egter aan rapportering oor hul raadpleging van bruin en swart mense oor dié se reaksie op gemeenskaplike Afrikanerskap en volkskap.
No comments:
Post a Comment