Thursday 21 July 2016

Heilige graal oor Afrikaner steeds nie gevind

Petrus lewer 'n, Giliomee-gerugsteunde, verdienstelike bydrae (DB,19.07) tot die Afrikanergesprek. Tog verteenwoordig dié bydrae maar net nog een van vele meer uiteenlopende eietydse vertolkings van die Afrikaner, en -volk, onder veranderde omstandighede.

Sentraal in dié Afrikanergesprek staan identiteit   -   en die behoud of verlies daarvan   -   die belangrikheid waarvan deur Petrus onderbeklemtoon word, en so 'n leemte in sy beredenering laat. Ons leef juis in 'n tyd wat 'n identiteitlose wêreldgemeenskap gepropageer word.

Om op 'n spontaan ongedwonge wyse met mense en "dinge" te identifiseer, is tipies, soos, byvoorbeeld, 'n seun met sy pa en 'n dogter met haar ma. Dit geld eweneens die ongedwonge identifisering met Afrikanerwees en die  -volk. Op identifisering volg assosiëring op grondslag van keusevryheid tot assosiasie of dissosiasie. Op assosiasie volg konformering   -   om ingebind te word met diegene met wie geïdentifiseer en geassosieer word, soos pa-seun en ma-dogter.

Die besluitnemingsreg van elke individu word onderlê deur die keusevryheid met wie jy wil identifiseer, assosieer en konformeer. Dié reg geld ook binne die Afrikaner-  en -volkskonteks. In my brief (DB,16.07) , volgens my keusevryheid, verwys ek na myself as 'n Euro-Afrikaner. Petrus maak hierteen beswaar wanneer hy sê: "Name soos Euro-Afrikaner...toon neigings tot ideologiese nasionalisme wat weinig bydra om eenheid in diversiteit te bevorder.."

Ek verneem graag van Petrus of alle nasionalismes (in die algemeen) dan van ideologiese aard is; of Afrikaner-nasionalisme (in die besonder)   -   volkse Afrikaners is tans juis gewikkel in 'n oorlewingstryd om identiteitsbehoud   -   ideologies is, asook van watter kriteria hy gebruik maak ten einde ideologiese nasionalisme te bepaal.

Om ook uitsluitlik "eenheid in diversiteit te bevorder", is tegelyk wanbalansig, onbillik en oneerlik. Ook diversiteit in eenheid het gelyke aanspraak op erkenning en bevordering. Dié twee moet in harmoniese ewewig verkeer.

My oorwoë mening is dat ook Petrus nie daarin slaag om die heilige graal, oor presies wie en wat die Afrikaner is, te vind nie.







No comments:

Post a Comment