Monday 27 June 2016

Dekolonisering is vermomde kolonisering

In "Kolonisering onder die dekmantel van dekolonisering" (20.06) sê Flip Buys dat die dekolonisering-slagspreuk deur radikale aktiviste op kampusse verkondig word. Dit behels 'n omvorming van dié instellings na "inheemse" instellings wat met 'n Afrika-inhoud vervang moet word.

Buys wys op die volgende rooi ligte wat dié slagspreuk aanskakel. As 'n inheemse taal moet Afrikaans daarvolgens verdwyn en met Engels, as die moderne geskiedenis se grootste koloniale taal, vervang word. Hoe ironies en tragies. Wetenskap en tegnologie, gedoseer in universiteite as Westerse kultuurprodukte, is nie van hul Westerse fondamente los te maak nie. Westerse wetenskaplike navorsing is op die voorpunt van die tegnologie en ekonomie, en kan nie maklik deur huidige inheemse Afrika-kennis   -   in 'n mededingende wêreldgemeenskap   -   vervang word nie.

Dekolonisering gaan uitsoekerig om met Westerse waardes en is daarom in beginsel oneerlik. Dit verwerp merieteprestasie, beloning volgens produktiwiteit, eiendomsreg, oppergesag van die reg, en demokratiese vryheid, dog omhels die Westerse verbruikerskultuur en lewenstandaard soos selfone en motors soos deur Westerse tegnologie gebied.

Die volgende rooi lig waarop Buys wys, is "die skynheiligheid van dekolonisering...(wat) in werklikheid Afrikanerinstellings wil koloniseer...wat hoofsaaklik deur Afrikanerkapitaal en  -energie opgerig is." Na 1948 het ook Afrikaners "gedekoloniseer". Hulle het egter nie universiteite soos Wits en Kaapstad, asook Engelse banke, koerante en maatskappye, vernietigend oorgeneem nie, maar daarnaas hul eie Afrikanerinstellings opgerig.

Sy laaste rooi lig stel Buys in vraagvorm: Het die aftakeling van Westerse instellings nie alreeds tot "demodernisering" gelei nie? Hy beweer dat die transformasiebeleid 'n bewese mislukking is. Dit spruit nie uit die SA-grondwet nie, maar wel "uit die ANC se oorspronkilke kommunistiese wortels". Die ANC het by Kodesa slegs toegewings gemaak om die mag te bekom wat nou gebruik word om hul sosialistiese doelstellings te verwesenlik, aldus Buys.

Buys waarsku dus dat ANC-transformasiegedrewe neo-kolonisering nie verkeerdelik vir dekolonisering aangesien moet word nie.










No comments:

Post a Comment