Volgens 'n onlangse RSG-nuusberig word SA se voedselbehoeftes op slegs 20% van die land verbou wat, volgens die ANC, 80% laat vir herverdeling onder die grondloses. Dit is, volgens ANC-denke, die alleroplossing vir swart armoede. Swart boere gaan 'n hond uit 'n bos boer, en so 'n einde maak aan werkloosheid en armoede. Dit dien dan ook as 'n belangrike aansporing vir die ANC-onteieningswet. Wat leer die praktykwording van dié ANC-gekoesterde ideaal ons egter?
In "Plaas ná jare steeds onbenut" (DB,30.05), word berig dat ná sewe jaar 'n Tsitsikammaplaas - as grondhervormingsprojek _ "steeds onbenut en die begunstigdes platsak (is)" Dié begunstigdes "het niks geweet van plaasbestuur nie...die plek is verniel en die projek het platgeval...geld is vrugteloos verkwis...die trustees van die projek (is) prominente ANC-politieke leiers..." Hoeveel keer het die media nie al vantevore berig oor soortgelyke fiasko's wat sigself, by herhaling, landwyd afgespeel het nie?
Hierin stel die korrupte ANC - self 'n voorbeeld van uiterste onvermoë net soos dié by Tsitsikamma en ook elders in die land - wat in 1994 beheer oorgeneem het van die tóé sterkste Afrika-ekonomie, en dit na 22 jaar gevoer het tot op die rand van rommelstatus, 'n party wat selfs binnegevegte voer om eie belang en persoonlike oorlewing ten koste van landsbelang.
Vir diegene wat weier om oningelig te bly omtrent die daaglikse landsgebeure, is hiermee niks nuuts gesê nie. Die vraag is egter wat ons te doen staan wanneer ANC-onteiening begin implementeer word volgens die Zimbabwiese Mugabe-model, en voedselproduserende kommersiële plase, of gedeeltes daarvan - soos die mislukte Tsitsikammaplaas - ook in die onteieningsvisier kom en voedselskaarste SA dwing tot buitelandse invoere, met 'n steeds verswakkende Rand, en die risiko van uiteindelike hongersnood?
SA is 'n gewaande demokrasie, en al wat ons eintlik het om ons op te beroep, is die grondwet en die regstelsel. En vir hoe lank nog, is 'n verdere onrusbarende vraag.
No comments:
Post a Comment