Wednesday 8 June 2016

ANC-massastem wil nie SA ophef nie

Dat SA se toekoms in die hande van die massas gebrekkig ingeligte, willekeurig-omkoopbaar, manipuleerbare stemgeregtigdes verkeer, is 'n werklikheid. Hoe ontworstel die SA-toekoms hom daaraan? Ek het nie die allerantwoord nie, maar dink tog dat algemene opheffing oor 'n breë front   -   veral kennis-  en insiggewys   -   'n verskil kan maak.  

Opheffing, as gedeeltelik remediërende oplossing vir ons toekomsprobleem, bring talle vrae na vore, soos: wie/wat inisieer opheffing? Hierin het die skool 'n primêre taak, maar die teenswoordige mislukkende ANC-skoolstelsel met sy talle disfunksionele skole slaag nie daarin nie. 

'n Verdere vraag: hoe hef jy diegene op wat duidelik ANC-solidêr en  -verslawend is en staatsafhanklik wil bly? 'n Meer kritieke vraag is egter: volgens wie se opheffingsmodel   -   Afrika of die Weste   -   moet opheffing geskied, gedagtig daaraan dat SA homself as 'n internasionale rolspeler beskou?

Wat voorgemelde vraag betref, kry ek die indruk dat daar by vele weinig waardering bestaan wat betref die historiese Euro-inisiatief tot Afro-opheffing. Dit kom soms voor asof wittes selfs verkwalik word vir dié inisiatief, omdat swartes wittes dan nooit om opheffing sou gevra het nie. Waarom word skole, klinieke, biblioteke en admingeboue   -   voorbeelde van westerse opheffingsimbole  -   dan gevandaliseer en afgebrand? Waarom word Winnie Rust, bekend vir haar vrywillge opheffings-  en weldoenerswerk, vermoor?

'n Verdere vraag: waarin lê opheffing opgesluit, en hoe geoperasionaliseer?   -   'n komplekse vraag vir die kundiges. Vir my lê selfopheffing aan die wortel van opheffing. Sonder innerlike wilskrag as dryfkrag vir selfopheffing, vorder ons nie. Eksterne gesus, gepaai, gepamperlang en standaardverlagings lei nie tot opheffing nie. Natuurlik behoort die staat, op 'n gesonde vennootskapsgrondslag met die private sektor, geleenthede en middele tot opheffing te voorsien.

In nagenoeg dieselfde aantal jare wat die ANC die SA ekonomie afgebreek het, het die platgeskiete na-oorlogse Duitsland en Japan, deur nasionale selfopheffing, hul posisie as internasionale ekonomiese leiers herstel. Geoordeel aan die ANC-voetspoor van volgehoue agteruitgang en verval in SA, is dit duidelik: die ANC-massastem wil nie SA ophef nie, nie volgens westerse model nie.

(ngn)








No comments:

Post a Comment