Hulle woon dig saamgehok in die agterplaas van 'n spazawinkel in die onderdorp in lekkend verweerde woonwaens en kinderspeelhuisies (wendy houses) - werkloos, inkomsteloos en op aalmoese aangewese.
Dikwels staan hulle by verkeersligte en stopstrate met 'n blikkie in die hand, klop aan ons voordeure met versoeke om voedsel en/of geld, en krap selfs in vuilgoedsakke ten einde gesinne te kan onderhou, hulle wie se selftrots hulle lank reeds ontneem is met ons wat verkies om liewer anderpad te kyk as in hul oë.
Wie is die "hulle" wat, gestroop van hul menswaardigheid, onder haglike omstandighede leef? Vir my is hulle my ras-, taal-, geloofs- en volksgenote wat 'n uitsiglose toekoms onder 'n onsimpatieke, dikwels wraaksugtige en korrupte ANC-regering tegemoet gaan.
My genootlike identifisering met dié uitgestotenes sal waarskynlik as rassisties, fundamentalisties en derhalwe deur sommige politiek korrektes as 'n gevaar vir die nasionale ideologie van sosialisme-kommunisme beskou word.
Op my rekenaarskerm verskyn daar gereeld 'n herinnering aan mammas van voorskoolse kleuters om tog nie daardie ekstra broodjies op 'n Vrydag vir ons Kwa Nobuhle-maatjies te vergeet nie. Prysenswaardig en verdienstelik dié uitreiking (nie hier gemeld as kritiek nie), maar wat dan ook van ons eie volksmaatjies wat swaarkry?
Durf ons toelaat dat die druk van politiek-korrek-wil-wees ons gesonde prioriteite-oordeel - betreffende ons ingesteldheid teenoor ons eie volkslede - sal beïnvloed? Laat ons derhalwe nie die een ding doen en die ander nalaat nie.
No comments:
Post a Comment