Monday, 5 June 2017

Nie almal vind identiteit in "ons" nie

Jeanette Snyman reageer betekenisvol met haar " 'Ons' moet groter as 'ek' word" (01.06) op my vraag na die potensiële versaking van ons volksidentiteit. Sy sê almal soek na " 'n identiteit met vastigheid" wat te vinde is "as die 'ons' belangriker word as die 'ek'..." Ongelukkig laat sy die "ons" en "ek" ongekwalifiseerd, blootgestel aan riskante vertolking.

Haar "ek" vertolk ek as die Afrikanervolk; haar "ons" as die multikultureel diverse SA-samelewing. In Snyman se "ons"-"ek"-verhouding beklee "ek" 'n ondergeskikte posisie. Moet die "ek" dalk geleidelik in die "ons" opgaan en uiteindelik daarbinne verdwyn, verskaffende " 'n identiteit met vastigheid"?

Indien wel die geïdealiseerde scenario, verteenwoordig dit die skimmige herrysenis van historiese figure soos lord Charles Somerset, sir Alfred Milner en genls. Louis Botha en Jan Smuts wat Afrikaners ("ek") hul volksidentiteit wou ontneem ten einde in die groter Britse "empaaier" ("ons") te verdwyn.

Gemelde persone verteenwoordig historiese krisismomente in ons volksbestaan, tydperke van die "toetsing" van Afrikaners vir die behoud òf prysgawe van hul volksidentiteit.Ook vandag staan Afrikaners voor dieselfde "toets"; vandaar my vraag na die behoud of prysgawe van ons volksidentiteit.

Ek vind Snyman se suggestie dat 'n identiteit wat nie in "ons" gevind word nie, " 'n struikelblok vir vreedsame naasbestaan (is)...(en) veglustig raak", as bevooroordeeld.  Almal vind beslis nie hul "identiteit met vastigheid" in "ons" nie.

Haar eie identiteit vind Snyman in assosiasie met rolmodelle soos Albie Sachs en Antjie Krog   -   eerder as Bart Nel   -   persoonlikhede met wie ek nie spontaan identifiseer nie. Ek gun Snyman egter die vinding van " 'n identiteit met vastigheid".




No comments:

Post a Comment