Tuesday 13 June 2017

Doen die DA sy naam gestand met Zille?

Skerp verdeeldheid in DA-partygeledere kenmerk die Zille/kolonialisme debakel, en ons kan maar net gistende spekuleer oor die aanvang, verloop en afloop daarvan.

Kom ons veronderstel dit was 'n swart persoon op besoek aan Singapoer waar sy in helder waarnemingsoomblikke tot dieselfde gevolgtrekkinge gekom het as Zille en dit getwiet het, wat sou die reaksie daarop gewees het? Ek vermoed weinig, indien enige; dalk selfs totaal geïgnoreer. Speel ras dalk ook 'n rol in dié debakel?

Vervolgens kan ons gis oor haar kritici wat haar aanraai om te bedank. Sou diesulkes self bereid wees om onder 'n wolk van beskuldigings en onopgeklaarde omstredenheid te bedank alvorens daar nie eers gepoog is om die eie kant van die saak, lugsuiwerend, te stel nie? Sy word summier tot 'n Quisling verklaar, bereid om haar as sondebok vir Azazel die politieke wildernis in te jaag.

Groot gewag word gemaak van die potensiële swart stemverlies in 2019. Berus dié aanname nie ook maar self op spekulasie nie? Daar bestaan geen waarborg dat die onvoorspelbare swart stem wel betekenisvol vanaf die ANC na die DA sal swaai nie, as party niks meer as 'n koalisievennoot nie.

Wit DA-kiesers laat blyk dat hulle dié party gaan verlaat sou Zille moet gaan. So kan ons dan ook gis oor die omvang hiervan, en veral die blyke van kommer daaromtrent by die DA-partyleiding oor sodanige stemverlies, bevraagteken.

Ten laaste kan ons ook spekuleer oor die geloofwaardigheid van 'n party wat Zille vroeg reeds "gevonnis" het sonder 'n vooraf verhoor. Doen so 'n party sy naam gestand?






No comments:

Post a Comment