Monday 19 June 2017

Die Zille-twiet raak alle Suid-Afrikaners

Reaksie op die gewraakte Zille-twiet wek die indruk dat slegs swartes onder kolonialisme gely het. Dit is so omdat kolonialisme vandag tot 'n opportunistiese speelbal in die politieke spel gemaak word. Afrikaners en bruin mense was ook slagoffers daarvan. As swartes dié twiet as kwetsend ervaar, waarom dan nie ook Afrikaners en bruin mense nie?

Van wit, swart en bruin se historiese verset teen kolonialisme  -  eers teen Nederlandse en daarna Britse kolonialisme  -  is die Afrikaners se stryd daarteen waarskynlik die beste geboekstaaf. Afrikaners se volgehoue stryd om vryheid en onafhanklikheid  -  deur bloedvergieting gekenmerk tydens gebeure soos dié van Slagtersnek, die Groot Trek, twee Vryheidsoorloë en die 1914/15-Rebellie  -  sou uiteindelik kulmineer in die Balfourverklaring (1926) en die Statuut van Westminster (1931) as inleiding tot die beëindiging van kolonialisme.

Sou swartes na Afrikaners as koloniste verwys, begaan hulle 'n fout. Ons bestaan pas nie die definisie van koloniste nie. Ook ons was Britse onderdane. Na 365 jaar het ons geen oorsese moederland meer waarvan ons burgers is en wie se belange ons hier bevorder nie.

Wat historiese kolonialisme betref, bevind swartes hulself nie in 'n unieke posisie nie.Hulle kan dus nie dié historiese tydperk in ons geskiedenis net vir hulself opeis terwyl Afrikaners en bruines ook in 'n worstelstryd met kolonialisme gewikkel was nie. 

Verwyder daarom die oogklappe en kyk vanuit 'n onbevange historiese perspektief na die Zille-twiet, en kom tot die besef dat nie net swartes daardeur geraak word nie, maar wel alle Suid-Afrikaners.








No comments:

Post a Comment