Was ek daartoe bekwaam, sou ek 'n elegie oor wyle Suna Venter wou skryf, 'n dapper vrou, hewig aangeval deur onsigbare magte van die duisternis wat haar, uiteindelik deur die dood, tot waarheidswye sou bring. Dié tragiese gebeure durf nie onder die mat gevee word nie; geregtigheid moet geskied.
Kulminerend in haar vroegtydige dood, is Suna geteister deur bose magte en wel by wyse van aanranding, ontvoering, doodsdreigemente, huisbrake, in die gesig geskiet, haar motor se remkabels en motorbande gesny, aan 'n boom vasgemaak en die gras daar rondom aan die brand gesteek - die terreuromvang wat sy moes verduur en verwerk.
Suna se dood lei tot talryke vrae soos: wie is die gesigloses wat haar graag dood wou sien? Hoe sterk is die owerheidswil om die aandadiges te ontmasker? Gaan daar nog verdere slagoffers, soos Suna, van dié demoniese magte wees?
Ek wil vertrou dat Suna se dood nie tevergeefs sal wees nie, maar dat haar heldhaftige voorbeeld vir ons as inspirasie mag dien. Mag die geskiedenis haar onthou as eietydse heldin wat haar vreesloos verset het teen die leuen en magsmisbruik, en met haar lewe moes boet vir die waarheid in die stryd om mediavryheid - 'n vryheidsvegter teen die Zuma-hegemonie.
Ons salueer 'n onverskrokke vrou. Sy verdien vereer te word met 'n nadoodse dapperheidstoekenning, en 'n plek ingeruim te word vir haar in die galery van volkshelde en -heldinne.
No comments:
Post a Comment