Oor alle eeue heen moes mense nog altyd dinge en gebeure in hul omgewing vertolk het, vanaf die eenvoudigste tot die mees komplekse. Ook die verlede is voortdurend onderhewig aan vertolking en hervertolking.
By die lees van Duifie de Lange (DB,01.03) se brief waarin sy sê: "Dit is arrogant om 20 jaar (later)...steeds daarop aan te dring dat universiteite Afrikaans moet wees...Afrikaners te onnosel om in Engels te studeer?... tyd dat ons Afrikaners volwasse raak...as ek van 'n ander bevolkingsgroep was, sou ek ook...die Afrikaners met alles in my gehaat het", is dit duidelik dat dié opmerkings haar uiters aanvegbare vertolkingsuitsprake oor die Afrikanerverlede verteenwoordig.
Wat my betref, word haar vertolking gekenmerk deur 'n totale gebrek aan objektiwiteit, billikheid, historiese balans,onbevooroordeeldheid en gebrek aan perspektief op die verlede. Probeer sy iemand hiermee ter wille wees, veral met haar sterk suggestie van haat vir Afrikaners, simpatiserende met Afrikanervyandiggesindes?
Tyd is dinamies en omstandighede verander. Vroeër geldende maatstawwe geld nie meer vandag nie. Om veranderde maatstawwe wat vandag geld op die verlede toe te pas, getuig van onkunde, perspektiefloosheid en/of moedswilligheid. Ek meen De Lange maak haar juis hieraan skuldig deur verlede-omstandighede volgens hede-maatstawwe te beoordeel. Dit getuig van onverantwoordelike en goedkoop, dog gevaarlike, sensasiesoeke.
Die nodige ruimte ontbreek om De Lange se onwaar stelling van Afrikaner-selfsug te weerlê. (ngn)
No comments:
Post a Comment