Monday 7 March 2016

Voorbladopskrif maak DA-kandidaat verdag

Die woordkeuse in die voorbladopskrif: "Huurrekeninge besteel : DA-man se vrou 8 jaar tronk toe" (DB,04.03), wek erg ongemaklike vrae. Die aanvoeling is dat dié opskrif van swak oordeel getuig.

Waarom aan die eggenoot van die gevonnisde vrou pertinente prominensie as "DA-raadslid van Despatch" verleen terwyl daar in dieselfde koerantuitgawe berigte verskyn wat ewe goed die voorblad kon haal? Waarom "DA-man se vrou" uitlig en beklemtoon? Daar moet tog 'n rede(s) daarvoor wees.

Wat het die eggenoot se politieke affiliasie met sy vrou se oortreding te doen? Maak dié pertinente assosiasie van die "DA-man" met sy vrou se skuldigbevinding en vonnis van agt jaar tronkstraf nie sy integriteit en geskiktheid as DA-kandidaat in die eerskomende plaaslike verkiesings op subtiele wyse verdag nie?

Wat is die moontlikheid dat die partyleiding, vanweë die druk van dié negatiewe openbare beeldskepping, die geskiktheid van sy kandidatuurskap in heroorweging kan neem? Indien wel, bestaan daar enige regsgronde waarvolgens hy teen dié openbare beeldskepping deur die media beswaar kan maak?

Met dié berigopskrif en die negatief verdagmakende vertolkingsimplikasies daarvan, stel "Die Burger" sy lesers teleur. Jarelange lojale lesers het nie waardering vir hierdie soort beriggewing nie.




No comments:

Post a Comment