Monday 14 March 2016

Sepie misbruik vir sosiale transformasie

Lesers het die afgelope tyd laat blyk dat hulle aan die einde van hul 7de Laan-kykerspad gekom het. Wat ook al die rede(s) daarvoor, Rapport het 'n tyd gelede berig dat die SAUK se nuwe opdraggewende redakteur baie spesifieke vereistes vir die nuwe 7de Laan-seisoen gestel het, soos, byvoorbeeld, dat dit meer Engels sowel as inheemse tale moet akkommodeer, 'n meer getransformeerde storielyn, en veranderinge aan die kreatiewe span.

7de Laan word tans, as deel van die ANC se nasionaal-sosialistiese ingenieursprogram (social engineering program), doelbewus deur die SABC as sosiale transformasie-instrument misbruik. Dit vind weerspieëling in die vermindering van wit akteurs, beëindiging van eksklusiewe Afrikaans, die tipes roltoekenning aan wittes, en soms ook die instelling van 'n ouderdomsperk vir kinders.

Van die nagenoeg 92 spelers wat sedert 2 000 rolle in dié sepie vertolk het, was ongeveer twee-derdes wit. Van die nagenoeg 23 spelers tans is slegs die helfte nog wit. Ook moes ruimte gemaak word vir Engels en die Afrikatale.

Baie opvallend veral is die hoogsverdagte roltoekenning aan wit akteurs: aartsskelm Gita, wraaksugtige Natalie, bedenklike Oubaas, eksentrieke Hilda, huweliksverwoestende Altie, aggressiewe wit gevangene wat Xander aanrand, moordenaar(s) van Herman en sy seun, Willem se buite-egtelike verhouding met Felicity, inhalig onderduimse Ty, en Willem se sielsieke vriendin wat hul gesamentlike selfdood wou uitvoer. Daarteenoor is sterk karakters dié van Charmaine, Neville (voortgesette nadoodse modelinvloed) en Xander. 

Kan dié voorstelling van wittes, in alle billikheid en regverdigheid, gesien word as 'n werklikheidsgetroue weerspieëling van ons multikulturele samelewing? En dít word, ironies, vir kykers opgedis as gesinsvermakende kykgenot. Kan diegene, wie se geduld met dié misbruikte getransformeerde sepie op is, daarvoor verkwalik word?               (ngn)






1 comment:

  1. Tommie jy verwoord wat ek en my man nou al maande lank vir mekaar sê, ook dat dit die "gedwonge veranderinge" is wat die moontlike oorsaak is van die agteruitgang van die sepie.

    ReplyDelete