Wednesday 16 March 2016

Taalproblematiek verg soepelheid van denke

De Lange se reaksie (DB,15.03) op my skrywe (DB,12.03) het betrekking. Ons verskil oor die behoud (ek), óf prysgawe (sy), van Afrikaans op universiteit. Sy noem haar taalprysgawe " 'n onselfsugtige taaluitkyk"; diegene wat verskil, is "selfsugtig".

De Lange sê: "dit (is) ons Christelike plig om op te hou om selfsugtig ten koste van ons oorgrote meerderheid studente" te wees. Los gerus dié onvanpaste kwasie-vroom "christelikheid"   -   wat Afrikaans van sy grondwetlike taalregte wil beroof   -   om daarmee 'n bedenklike taalstandpunt te probeer regverdig. Sê die Bybel ons moet ons taal selfvernietigend prysgee? Waar is die bewyse vir die kwaadwillige bewering dat Afrikaans "ten koste van ons oorgrote meerderheid studente" behoue moet bly?

Volgens De Lange het sy "klasgegee"; maar was dit aan 'n universiteit? Beskik sy oor selfdeurleefde ervaring daarvan? Ek het wel. Saam met studente en kollegas het ek self die uitwerking van psigiese teistering, wat die verwerping van jou taal en die afdwinging van Engels tot gevolg het, ervaar. In vele gevalle het dit tot depressie en die gebruik van anti-depressante gelei. Het De Lange dit deurgemaak?

Natuurlik kan De Lange ook geen waarborg bied dat, met die volslae verengelsing van die tersiêre onderwyskonteks, anglisering nie ook mettertyd   -   met 'n domino-effek   -   na die sekondêre, primêre én voorskoolse onderwyskontekste sal oorspoel nie.

Vir De Lange is "Engels as tersiêre onderrigtaal...'n aanvaarbare middeweg." Vanwaar dié "middeweg"? Middeweg impliseer 'n tussenin posisie tussen ander potensiële opsies. Van sulke opsies sprak sy geen sprook nie. Wyer oplossingsoekende opsies ontbreek by haar.

Groter soepelheid van denke is nodig vir dié taalproblematiek; nie 'n gefikseerde denkverstardheid nie. Die toepassingsmoontlikhede van die elektronika is een so 'n opsie ter oorweging vir taaldoeleindes. Voorbeeld: met 'n persoonlike blog beskikkende oor 103 vertalingsopsies word my skrywes wêreldwyd gelees. Die voorheen onmoontlike is vandag moontlik. Dit geld ook die posisie van Afrikaans op universiteit.               (ngn)










No comments:

Post a Comment