Monday 28 March 2016

So, is politieke korrektheid demokraties?

Volgens Wikipedia is politieke korrektheid (pol.kor.) 'n term vir versigtige taalgebruik en die vermyding van politiek gevoelige onderwerpe. Begrippe soos ras, geslag, godsdiens en seksuele oriëntasie word deur selfsensuur "gefilter" ten einde niemand te benadeel nie.

Pol.kor. behels 'n konseptuele (woordeskat) transformasie. Die noue verweefdheid van taal, denke en bewussyn beskik oor die potensiaal dat taaltransformasie ook tot 'n denk-  en bewussynstransformasie kan lei, en benut kan word vir die "heropvoeding" van die samelewing waarvolgens denk-  en spraakvryheid inperkend van burgers ontneem kan word.

Denk-  en meningsuitings wat nie die spelreëls van pol.kor. nakom nie, is onwelkom in openbare debatte en die media, en loop gevaar van veroordeling. Voorbeeld: bedreigde Europese burgers, soos in Nederland en Duitsland   -   wat openlik krities van EU-leiers verskil oor die hantering van honderde duisende instromende vreemdelinge   -   word beskuldig van rassisme, fascisme en nazisme (nie-pol.kor. etikette) as synde die werklike moeilikheidmakers te wees.

Wim van Schaik, 'n Nederlander, skryf soos volg oor die vestiging van 'n "politiek korrekte diktatuur" waarin hy die volgende fases onderskei: 1.indoktrinasie, 2. morele selfkontrole en  -sensuur, 3. terreur soos allerlei beskuldigings, doodwensing en fisieke geweld, en 4. institusionalisering van pol.kor. deur wetgewing wat alle vorme van kritiek verbied   -   dus denk-  en spraakontneming.

Twee slotvrae: So, is pol.kor.demokraties, en waar staan ons demokratiese SA ten opsigte van pol.kor?



No comments:

Post a Comment