Monday 21 March 2016

Blameer ANC-skooltaalbeleid; nié Afrikaans

Die artikel: "Engels is g'n wonderkuur" (DB,17.03), is een van die mees akkurate in die heersende universiteitstaaldebat. Daarin sê prof. Du Plessis: "Anglomaniese aktiviste...hou Engels voor as die gelykmakende oplossing om ongelykhede in tersiêre onderwys uit te wis."

Ongelykhede word op 'n bedrieglike wyse aan apartheid, rassisme en wit bevoorregting toegeskryf. Du Plessis sê dat: "die huidige vlaag van Engelsbesetenheid...(en) verwydering van Afrikaans ...ons aandag van 'n groter nasionale krisis aflei...(die) onderprestasie van (veral swart) skoolgaandes." Swart leerders wat op skool in Engels onderrig word, is aan die einde van die sekondêre skoolfase "minstens vyf jaar agter hul 'bevoorregte' eweknieë" wat in hul moedertaal   -   Afrikaans of Engels   -   onderrig ontvang het.

Die funksionele ongeletterdheid onder swart leerlinge is ontstellend hoog. "Universiteite 'erf' dus hierdie sistemiese ongelykheid" waarvoor die ANC met sy "belemmerende rol van Engels as voertaal in swart skole", te blameer is. Vir kognitiewe ontwikkeling is die moedertaal onontbeerlik, nie-moedertaal-onderrig lei tot katastrofiese gevolge en hoë onbekostigbare druipsyfer.  Du Plessis sê: "tersiêre onderrig staan en val ... by kognitiewe vaardigheid (benodig) ... om tekste analities te kan lees."

Omdat hulle "nie op gelyke voet kan meeding met Afrikaanse en Engelse studente nie... raak swart studente gefrustreerd (en) ... kanaliseer hulle hierdie frustrasie na Afrikaners en 'blanke bevoorrregting' ". Du Plessis sê: "die verwydering van Afrikaans verander nie 'n duit aan die onderprestasie van swart studente nie (en) ... die slegs-Engelsbeleid vererger dié benarde situasie."

Volgens Du Plessis skep die "slegs-Engels-veldtog...valse verwagtinge by swart studente en mislei hulle om te glo dat die verwydering van Afrikaans hulle gaan help (en is) so 'n veldtog eintlik immoreel". Dit alles is die gevolg van "ideologiese verblinding". Afrikaans is daarom nié te blameer vir die huidige taalkrisis nie; die ANC-skooltaalbeleid wel.               (ngn)




No comments:

Post a Comment