Tuesday 8 March 2016

Beveg defaitistiese taalkapitulering

Afrikaners bevind hulself in 'n morbied neerdrukkende tyd en omgewing, gekenmerk deur aanvalle op verskeie fronte; waaronder ook die Afrikaanse taalfront. Ons taal is in 'n intens verskerpte oorlewingstryd gewikkel wat reeds vir twee eeue duur sedert die Britse besetting van die Kaap in 1806.

Hein van Kabeljous vra: "Sal dit regtig so 'n ramp wees indien almal in Engels onderrig ontvang?" (DB,07.03). Ja, Hein, beslis meer as 'n ramp; 'n tragedie. Vroeër reeds vra Duifie de Lange (DB,01.03): "Is ons Afrikaners te onnosel om in Engels te studeer?" Nee, Duifie, onnosel is Afrikaners beslis nie. In teenstelling met Engelssprekendes is die meeste taalhandhawende Afrikaanssprekendes goed tweetalig. Luister dus goed, dan mag jy dalk tot die insig kom aan watter kant van die taaldraad die werklike "onnoseles" (jou woord) is.

In 'n gesprek met 'n swart kollega oor die meriete van taal, sê hy hy het sy taal met moedersmelk ingekry. 'n Pragtige beeld, dog geldende vir alle taalgroepe. Die vraag is net aan skrywers, soos Hein en Duifie, óf ons vandag wel nog ons taalmoeder respekteer.

Hein en Duifie se vrae getuig van 'n inherente gees van defaitistiese taalkapitulasie. Dit laat ons wonder oor hoeveel soortgelyke defaitistiese stemme daar nog onder Afrikaanse moedertaalsprekers mag wees.

Nee, Afrikaans is en bly ons pêrel van groot waarde, kosbaar om te bewaar vir die nageslag. Ons durf dit nie voor die swyne werp nie, maar voortgeset bly verdedig. Beveg daarom taalkapitulasie, hetsy druk van buite óf van binne 'n taalvyandige omgewing.






No comments:

Post a Comment