Thursday 27 April 2017

Gebrekkige perspektief op wit Afrikaners

Frans Nel (DB,22.04) en Michael Pickstone-Taylor (DB,26.04) se beskuldiging van wit Afrikaners as alleenoorsaak van die rasseproblematiek in Suid-Afrika getuig van verregaande historiese onjuistheid. Elke saak het twee, en dikwels meer, kante  -  dié een ook.

Dit ontbreek dié skrywers aan 'n realistiese oop-gemoed historiese perspektief op die komplekse historiese ontwikkeling van ons land. Wit Afrikaners, teenoor wie hulle so venynig beskuldigend staan, het beslis nie sedert 1652 tot 1994 deurlopend oor die totale politieke en staatkundige gesag en mag beskik om daarmee almal te kon dikteer nie.

Wat leer ons uit histories opeenvolgende tydsgeeste (zeitgeists) waardeur mense- , rasse- en volkereverhoudinge hier te lande beïnvloed en gevorm is, tydsgeeste wat onderskeidelik kolonialisme, Britse Imperialisme, Afrikaner-nasionalisme en internasionale kommunisme gedryf het, asook, kontemporêr, sosialisties georiënteerde Afrika-nasionalisme dryf?

Kan wit Afrikaners verantwoordelik gehou word vir die opeenvolging van dié tydsgeeste en die invloed van elkeen daarvan op ons nasionale ontwikkeling? Beslis nie! Tog kies Nel en Pickstone-Taylor 'n gerieflik ongeoorloofde "snit" uit dié histories tydgeestelike spektrum   -   Afrikaner-nasionalisme   -   en fokus met oogklappe alleenlik daarop.

Kom ons verwyder die oogklappe wat lei tot 'n gebrekkige perspektief op die volledige historiese werklikheid, en kom ons staak ook om mense te wil voorskryf oor wie skuldig is en verskoning moet vra.




No comments:

Post a Comment