Monday 3 April 2017

Gaan ook Zuma in sy eie swaard val?

Dit ontbreek nie aan analoë historiese figure, magsugtig en gierig, en pres.Zuma nie.

Soos koning Nebukadnesar, streef ook Zuma na 'n kop van goud, dog hy het reeds afwaarts deur die fases van silwer, brons en yster getuimel na voete van klei. Koning Midas se droomverwerkliking, om alles wat hy aanraak in goud te laat verander, het hom   -   tot sy bittere spyt   -   sy kosbare dogtertjie ontneem. Zuma se hebsug het hom van talle ondersteuners vervreem. Toon hy enigsins spyt, of stoomroller hy voort in egoïstiese eiebelang ten koste van ons landsburgers? Keiser Nero speel viool terwyl Rome brand. Terwyl Zuma in die parlement staan en giggel, word mense vermoor teen 'n gemiddelde van 51 per dag.

Onder die voorbladopskrif: "God staan by ANC" (DB,19.03.09), sê Zuma: "Wie op dees aarde kan teen ons wees as God aan ons kant is?", en: "Kerkleiers (van Mafikeng) het...beloof om die ANC se boodskap met dieselfde ywer te versprei as waarmee hulle God se Woord verkondig." God, Zuma en die ANC in dieselfde asem?

Zuma, en die ANC, begaan 'n oordeelsfout oor God. Daarin, weer, lê 'n analoë parallel tussen koning Saul   -   wat in sy eie swaard geval het   -   en Zuma opgesluit. Gaan ook Zuma uiteindelik in sy eie swaard val?










No comments:

Post a Comment