Saturday 15 April 2017

Indien wel humor, is dit galgehumor

Ek lees iets van 'n sinisme in Piet Matipa se aanvangsin: "Ek haat wittes" (sónder enige interpretasiekonteks), in sy "Van Alle Kante"-bydrae : "Die tyd van die wittes is nou vir altyd verby" (DB,13.04). As swart persoon sal hy deeglik bewus wees dat sy ongekwalifiseerde verwysing na "wittes" vertolk sal word as wit mense in ons sensitiewe rasseklimaat met sy sterk anti-wit sentiment.

Met hierdie onmiddellike, dog voorlopige, ingesteldheid lees ek dan ook sy geskrif net om algaande te besef dat hy "wittes" metafories gebruik. Hy vergelyk mense met yskaste   -   wit mense met wit yskaste.

Hy borduur sinspelend rondom dié wit yskasmetafoor   -   die slegste van alle yskaste   -   op 'n wyse wat dit net té opvallend maak om mis te kyk dat dit in presiese ooreenstemming is met die swart siening van wittes.

Hy verwerp wit, omhels swart, en kies uiteindelik die rooi yskas. Interessant dat dié kleure ook dien as simbole van ras en ideologie. Sy geringagtende negatiewe beskrywing van wit yskaste pas die huidige situasie van wittes in Suid-Afrika.

Matipa se yskasmetafoor is as't ware 'n masker waaragter hy as slim woord(kul)kunstenaar skuil. Moet sy skrywe as satiries-komies en humoristies beoordeel word? Skynbaar is dit wel politiek korrek.

Sal "Van Alle Kante" ook 'n skrywe van my publiseer waarin ek miere tot metaforiese simbool van mense maak en dan sê ek haat swartes en verkies rooies of wittes   -   soos wat Matipa doen?

Ek tipeer dié Matipa-skrywe as galgehumor.      (ngn)




No comments:

Post a Comment