Monday 11 April 2011

Kerklike segsman is 'n verleentheid

Sondagoggend het TV2 'n gesprek, getitel "Religion and Science", tussen verteenwoordigers van dié kampe, gebeeldsend. Aan godsdienskant het dr.Hennie Mouton en dr.Henrietta Klaasing deelgeneem as Christengelowiges, en aan wetenskapskant dr.Piet Croucamp, 'n uitgesproke ateïs.

Gesprekvoering het in Croucamp se studeerkamer plaasgevind wat waarskynlik aan hom 'n sielkundige "tuisvoordeel" besorg het, en derhalwe tot sy oorheersing en onsmaaklik steurende tussenwerpsels, veral tydens dr.Klaasing se deelname, gelei het. Theo Geyser, die programleier, het nie reg laat geskied aan die billikheid van gesprekvoering nie. Hy het te veel tyd en vrye teuels aan Croucamp afgestaan. Waarom juis 'n ateïs-wetenskaplike die wetenskapskant moes verteenwoordig en nie 'n Christenwetenskaplike nie, sal net Geyser waarskynlik weet.

Die godsdiens-wetenskapgesprek het weldra 'n teïsme-ateïsme karakter aangeneem.Mouton het sy basisveronderstelling, dat die Bybel absoluut waar is, goed geformuleer. Hy het, teenoor Croucamp se evolusionistiese vertrekpunt, dit gestel dat God bo-natuurlik geskep het, dat Hy verskillende soorte geskep het (waarvolgens een soort nie in 'n ander soort oorgaan nie), en dat dood   -   anders as wat evolusioniste beweer   -   eers na die sondeval deel van ons werklikheid geword het.

Klaasing het gewys op die geloofsdimensie van die menslike bestaan wat nie geweeg, gemeet en/of bereken kan word soos in die natuurwetenskappe nie. Voorbeelde hiervan is liefde en waardes. Croucamp het hierop beweer dat geloof nie mense van enigiets kan red nie; daar is nog nooit enige wetenskaplike bewyse daarvoor gevind nie. Dit is duidelik dat Croucamp nie die geloofsdimensie van die menslike bestaan erken nie.

In sy reaksie op dié gesprek het Jean Oosthuizen, navorsingskonsultant van dié uitsending en nuusredakteur van die NG Kerk se Kerkbode-tydskrif, gesê: "Dis nie reg om toe te laat dat mense hulself so vergat op nasionale TV soos Hennie Sesdag en ta Hetta Klaagster nie." Is Oosthuizen nie 'n verleentheid vir die Kerkbode en NG Kerk nie?






No comments:

Post a Comment