Tuesday 31 May 2011

Wie se politieke onderrok hang uit?

De Lange se brief, "Dié klomp gekant teen kerk-eenheid" (DB,27.05), het betrekking. De Lange is bekend daarvoor dat hy sy verskille van my op persoonsaanvallende wyse verwoord (DB,20.03.10; 22.04.10; 21.05.10). Hy sê: "Breitenbach se politieke onderrok hang uit."

De Lange maak eksterne, buite-kerklike faktore soos ras en politiek tot brillense waardeur hy kyk. Hy laat onbeskaamd na om kerklik-interne faktore soos die Bybel, die kerk en geloofwaardige kerkleiers tot brillense te maak vir sy perspektief op die Belharbelydenis (BB) en kerkeenheid.

Kykende deur laasgenoemde brillense, sien ons nie juis 'n vleiende prentjie van die teenswoordige kerk nie. Daar is dermate met die Bybel gepeuter, dat tereg gevra kan word watter een nog die waarheidsgetroue weergawe is. Uit teologiese oord verneem ons skokkende stellings. So verkondig prof. Julian Müller in sy jongste boek, "Jy mag maar twyfel", die teenoorgestelde van wat die Bybel ons leer. Op die NG Kerk se Diversiteitsforum is dit skrikwekkend om te lees hoedat behoudende lidmate as "verregse" en "rassistiese fundamentaliste" geskel word. En dit word toegelaat. Ferdie Mulder word ná tugverhore deur sowel die Universiteit van Pretoria as die NG Kerk geskors omdat hy durf beswaar maak oor hoe Jesus se maagdelike geboorte, Sy opstanding en Satan as werklikheid, in dié Teologiese Fakulteit hanteer is. Prof. Johan Janse van Rensburg wys daarop (Volksblad,25.05) hoedat dieselfde Wes- en Suid-Kaaplandse streeksinode wat die BB aanvaar het, terselfdertyd artikels 12 en 34 van die Nederlandse Geloofsbelydenis verwerp.

De Lange,vir my is die Bybel en kerk die brillense waardeur ek na die BB en kerkeenheid kyk, maar as dié lense troebel geword het, hoe kan van my verwag word om leiding vanuit sodanige lensperspektief te volg? Vele lidmate verloor hul vertroue in die kerk om dieselfde rede. De Lange, wie se "politieke onderrok" hang werklik uit: Myne, of dalk joune?




No comments:

Post a Comment