Friday 27 May 2011

Los skrywer en debatteer saak

My klip-in-die-bosbrief, "Ook 'onbybels' om plakkers te weier" (DB,24.05), het opvallend vir beide C.J. (DB,25.05) en Marianne (DB,26.05) op ongemaklike plekke getref. Kritiek het ek lank al reeds leer hanteer   -   en dit is julle reg om te mag kritiseer   -   maar julle het albei skynbaar nog nie leer onderskei tussen persoonsgerigte en debatsgerigte kritiek nie. Dit dui op gebrekkige insig.

Iemand wat oor genoegsame debatteringservaring en voldoende volwassenheid beskik, val nie die persoon van die debatteerder aan nie, maar debatteer die debatsonderwerp. Nie alle briewe wat hier verskyn, beskik oor ewe veel debatspotensiaal nie. My brief het wel, dog C.J. en Marianne is beide blind daarvoor. C.J. het dit teen my "breedsprakigheid", "selfvoldaanheid" en "vooroordeel", sonder enige poging om dit hoegenaamd motiverend met voorbeelde te probeer toelig.

Vanuit Marianne se Akademie vir Taalkritiek, verneem ek dat my taalgebruik "te formeel, verouderd en ingewikkeld" vir haar is. My bydraes besorg haar "slegte spysvertering". Dat 'n mens jou in jou alleenheid met só 'n abdominale ongemak kan martel met die lees van my skrywes, en dan in die openbaar by lesers medelye soek, verg besondere waagmoed. Hoe is dit dan? Die spreekwoord lui dat selfs 'n donkie nie twee keer agtereenvolgens sy poot teen dieselfde klip stamp nie. Waarom dan aanhou om my bydraes tot jou selfmarteling te lees?

Beide C.J. en Marianne verteenwoordig leunstoel-kritici, elk in sy eie gemaksone van waaruit ek my nie kan herinner ek nog ooit enige bydrae van hulle hier op Brieweblad gelees het nie. Hulle is verteenwoordigers van die beter-weters-aan-wal.

C.J. en Marianne, julle persoonsgerigte beskuldigings kom onoortuigend oor. Dit verdoesel eintlik maar net julle verskil van my aangaande die werklike debat ter sprake, die Belharbelydenis. Wees grootmoedig genoeg, kom uit agter jul skuilnaam-fasade, los die skrywer en debatteer die saak.




No comments:

Post a Comment