Thursday 19 May 2016

Alle onderwysfasette verdien verbetering




Ek verwys na dr.Jurie Joubert se artikel: "Vir 'n blinker toekoms" (DB,18.05), waarin hy dit in hoofsaak het oor die gebrekkige onderrigmodel van die ANC-skoolstelsel. Hy sê: "Fundamentele verandering...is nodig om ons onderrig weer op die regte spoor te bring...Swak akademiese vertonings is die resultaat van die...onderwysmetodiek...die probleem is die pedagogiek (hy bedoel waarskynlik eerder pedagogie) wat beoefen word. Die...oplossing lê...in gehalteonderrig."

Onderrig in isolasie gesien, kan egter nie alleen   -   in die afwesigheid van ander voorwaardelike onderwysfaktore, wat gesamentlik en geïntegreerd   -   leersukses waarborg nie. Onderrig is een, dog baie belangrike, faset van onderwys. Dit is by uitstek die taak van die onderwyser. Kinders gaan skool om, volgens elkeen se vermoëns, suksesvol te leer. Onderrig móét dus rekening hou ook met kinders se leervermoëns, -potensiaal en -style. 

Wat pas gesê is, impliseer 'n gedifferensieerde onderrig-leerbenadering, dog ANC sosialistiese dogma beklemtoon die ongedifferensieerde groep en -behoeftes veel eerder as die indiwidu en dié se behoeftes. Laasgenoemde benadering herinner die ANC darem té veel aan die vorige bedeling se suksesvolle benadering van gedifferensieerde onderwys. Die ANC sê: "We all have potential" (wat ongetwyfeld waar is), maar ontken dat indiwidue deur potensiaalverskille gekenmerk word.

Onderliggend aan suksesvolle onderrig (onderwysmetodiek) en leer op skool, is daar fundamentele boustene as voorwaardes vir suksesrealisering. Die totale spektrum van dié noodsaaklike boustene is te veel om hier te noem. Ek noem daarom slegs enkeles soos die keuring van onderwysstudente; deeglike onderwysersopleiding; gesonde onderwyser-kindverhouding, gesagsbalans, orde en dissipline; moedertaalonderrig; 'n veilige skoolomgewing; leefwêreldlik relevante leerinhoude, en gepaste leerlingmotivering.

Alhoewel Joubert volkome gelyk gegee moet word oor sy onderrigpleidooi, is dit alleen nie voldoende om leerlinge se onderwystoekoms te verseker nie. Daar moet op álle fasette van die ANC-skoolstelsel verbeter word.



No comments:

Post a Comment