Thursday 26 May 2016

Eensydig misleidende joernalistieke beriggewing

Na die lees van Allister Sparks se artikel, "Politieke waansin is óral" (DB,25.05), besef ek dat ek voortaan met 'n meer kritiese ingesteldheid sy toekomstige artikels sal moet lees. Waarom? In sy artikel maak Sparks, na my mening, hom skuldig aan onaanvaarbaar swak joernalistieke beriggewing in dié sin dat hy lesers mislei deur 'n uiters eensydige voorstelling van internasionale opposisie-politieke leiers soos Trump (VSA), Le Pen (Frankryk), Petry (Duitsland), Hofer (Oostenryk) en Johnson (Brittanje) wat, as "verregses", hulle beywer vir "regse supernasionalisme". Wat 'n klomp bog.

Sparks bied die leser geen verduidelikende uiteensetting en/of verklaring vir dié persone se politieke opkoms in hul onderskeie lande nie. Daar móét tog redes daarvoor wees. Dié redes verswyg Sparks egter gerieflikheidshalwe. 

Omstandighede in Europa, Brittanje en die VSA , en veral in Europa, het in die jongste tyd dramaties verander as gevolg van die instroming van honderdduisende "vlugtelinge" uit Moslemlande met die uitgesproke doel om Europa volkome te Islamiseer. Europese burgers voel, met goeie redes waarvan daar talle voorbeelde is, hulself en hul nasionale voortbestaan bedreig. Sparks noem dié reaksie "xenofobie"    -     belaglik.

Brussel en die Europese Kommissie, wat blyk toenemend al meer lidlande se interne huishoudelike sake vir hulle te wil voorskryf, luister nie na besware van bekommerde Europese burgers nie, en beswaarmakers word deur die media van rassisme, fascisme en nazisme beskuldig.

Op dié aksie van die EU volg reaksie om nasionale oorlewing. Dit is dié reaksie wat gemelde leiers na vore roep om die strewe na nasionale selfbehoud te beantwoord. Van dié redes meld Sparks absoluut niks. Wat my betref is dit 'n voorbeeld van die manipulering van die media, soos ook in Europa, om 'n vooropgesette beeld na buite uit te dra waardeur die waarheid geweld aangedoen word en die leuen floreer.







No comments:

Post a Comment