Briefskrywers huldig opponerende standpunte oor die inentingskwessie. Sommige wys op raakpunte; ander op verskilpunte, en nog ander neig om daarvan geskilpunte te maak - 'n polarisasie van menings rustende op oorwegend subjektiewe oortuigings. Is 'n middeweg te vinde?
Ek maak dit nie tot my taak om enigeen vir of teen inenting te beïnvloed nie. Ek maak nie ander mense se persoonlike en/of groepsverantwoordelikheid , allermins op arrogante wyse, tot myne nie.
Indien wel daarom gevra, gee ek my mening en tree dan terug. Elke persoon het die reg op selfstandige besluitneming, in ag genome die welsyn ook van ander. So, vanwaar my reg om ander tot my sienswyse te wil dwing?
Kan ons aanvaar dat diegene wat druk op ander uitoefen, en dit waarskynlik as hul burgerlike plig beskou, ook op vele ander belangrike nasionale terreine hul burgerlike plig nakom deur drukuitoefening ook daar?
Ek staan begrip en verdraagsaamheid teenoor beide individu èn groep voor; die erkenning van persoonlike keusevryheid en dat besluitneming deur talle oorwegings onderlê word, asook dat ongewensde drukuitoefening gestaak word.
Die soeke na die vinding van 'n middeweg in belang van ons nasionale gesondheidswelsyn is ons almal se plig. (ngn)
No comments:
Post a Comment