Saturday, 6 February 2010

Vee eers voor die eie taaldeur

Die berig,  "Groter uitreiking nodig vir Afrikaans" (DB,29.01.2010), verwys. Die FW de Klerk-stigting se taalberaad oor die toekoms van Afrikaans het nie net weer die taaltonge losgemaak nie, maar beslis die emosies ook.

Die aanloop tot dié beraad is gekenmerk deur spanning onder Afrikaans-taalgroepe ; in besonder wit en bruin. Wittes word veral vanuit bruin taalgeledere daarvan beskuldig dat hulle Afrikaans uitsluitend vir hulself opeis.

Is dit dan nou só moeilik om deur middel van navorsing te kan vasstel   -   indien nie rééds gedoen nie   -   wat die besondere aandeel en bydrae sedert 1652 was van onderskeidelik wit en bruin tot die ontstaan, volgehoue ontwikkeling, die stryd om die erkenning van Afrikaans as onderrig-, kansel-  en wetenskapstaal, asook inisiatiewe in die aanknoop van die vroegste taalbande met lande soos Nederland, België en Vlaandere, die oorsprong van die grootste gros boustene van ons taal? Of is hierdie taalmylpale in die huidige taalgesprek 'n gerieflik-ignoreerbare irrelevantheid?

Al verneem ons ook die uitslag van sodanige navorsing, wat dan gemaak? Sal dit ons bring tot groter erkenning en die begrip van, en waardering vir, mekaar as taalgenote? Of eis die  "wenner", wit óf bruin, Afrikaans monopoliserend op vir sigself, en om welke rede?

Laat ons die klem verskuif van 'n vernietigende interne taalverdeeldheid   -   waaroor die taalimperialis hom heimlik verheug   -   na 'n taalbevorderende eensgesindheid vanweë ons liefde en respek vir ons moedertaal,  Afrikaans.

Laat ons mekaar hierin eerder telkens vermaan tot selfondersoek deur eers voor die eie taaldeur te vee as om die vinger beskuldigend na mekaar te wys.

No comments:

Post a Comment