Tuesday 23 February 2010

Kerkleiers, teoloë se optrede vreemd

George Claassen het onlangs by die openingsdag van die Universiteit van Pretoria se Teologie Fakulteit (UPTF) as geleentheidspreker opgetree. Claassen is 'n uitgesproke ateïs en evolusionis wat hom in 2009 beywer het vir die nie-onderrig van godsdiens op skool.

In sy artikel, "Ateïs hoofspreker by openingsdag van UP-teologie", in die aanlyn-Kerkbode, vind dr. Hennie Mouton dit uiters vreemd dat 'n uitgesproke ateïs en evolusionis as die hoofspreker genooi is vir die UPTF se openingsdag.

Tot Mouton se ontsteltenis het twee teologie-professore laat blyk dat hulle nié van Claassen verskil nie. Een professor het selfs gesê: "Genetika is die doodskoot vir God, waarop die teologie nog antwoorde moet vind"; dit terwyl Claassen gesê het "...dat moderne wetenskaplikes, onder andere Charles Darwin, groter gesag as die Heilge Gees het." Is dit nie godslasterlik nie?

Mouton vra tereg: "Was  die uitwerking van dié geleentheid dus tot opbou of afbreek van die Christelike geloof? Het Claassen enige oproep tot bekering ontvang van enige van die teoloë?"

Na aanleiding van 'n berig in Die Burger van 6 Februarie 2010 onder die opskrif "Ateïstiese predikant mag in sy amp aanbly" oor ds. Klaas Hendriks van Nederland, vra Mouton "...of die teologie, en spesifiek die NGKerk se teologie, nie op dieselfde pad is nie."

Dit wil so voorkom indien jy die Moderamen se standpunt van 21-22.06.2009 oor evolusie verneem waarvolgens hulle dit as "wetenskap" erken, goedkeur dat dit in skole onderrig word, en dat lidmate vir hulself   -   sonder leiding van die kerk   -   daaroor moet besluit.

Is dit die optrede van kerkleiers en teoloë op wie lidmate kan vertrou?

Hierdie brief is in Die Burger(Oos-Kaap) van 24-02-2010 geplaas.

No comments:

Post a Comment