Wednesday 10 February 2010

Zuma verenig nou net Afrika-mense

Daniel Hugo se resensie van G.R. von Wielligh se boek,  Versamelde Boesmanstories 1 (DB, 01.02.2010), werp indirek lig op Zuma se onlangse buite-egtelike kaperjol.

Hierdie resensie-agtergrond maak dit duidelik dat Zuma wydsbeen in twee wêrelde wil staan, die mitologies-tradisionele en die moderne Westerse wêreld.

Grense in die mitologies-tradisionele wêreld tussen mens, dier, natuurelemente en die kosmos word na willekeur oorskry. Hugo beweer dié  "wêreldbewoner"  sien  "...homself nog nie as 'n aparte en unieke wese nie...(en) die kosmiese samehang...word in familieverwantskappe uitgedruk."

Binne hierdie ongedifferensieerde beskouing van mens-dier-natuur-kosmos, speel die vrugbaarheidskonsep 'n belangrike rol. Vrugbaarheid manifesteer in groot veetroppe en gesaaides ; die mens in baie kinders. Vrugbaarheid bring rykdom, status, gesag, mag en leierskap. Die mitologies-tradisionele leier word hieraan gemeet.

Zille se kritiek teen Zuma in haar artikel,  "Die ware Jacob" (DB,06.02.2010), kom vanuit die modern Westerse wêreld waarin ons  "demokratiese grondwet"  gevestig is.

Zille haal 'n hegte politieke  "vennoot"  van Zuma aan wat sê : "Jacob Zuma het 'n mandaat van 11 miljoen mense om te doen wat hy (grondwet-oorskrydend) wil."  Hieruit word die ANC-gesanksioneerde grensoorskrydende magsvertoon van Zuma duidelik. As grens-pendelaar   -   genietende die voordele van albei wêrelde   -   steek Zuma grense oor sonder enige gewetenswroeging.

As burgery moet ons vir Zuma vra of sy presidensiële amp binne die mitologies-tradisionele, of Westers-demokratiese wêreld gedefinieer is volgens die Suid-Afrikaanse grondwet.

Tans verenig die  "Zuma-ikoon"  slegs Afrika-mense deur middel van sy willekeurige grensoorskryding na mitologiese tradisionalisme, en vervreem sodoende landsburgers buite dié  "wêreld".

No comments:

Post a Comment