Friday 26 February 2010

Vrae oor NG Kerk en dwaalpraktyke

Emeritus ds. Johan Kriel vra in die Joy!-tydskrif van April 2009: "Wat gaan aan in die NG Kerk?" Kriel wys op "...die dwaalleer wat...deur sommige teoloë in dié kerk verkondig word"; ook tydens predikante-opleiding wat, ná voltooiing daarvan, by legitimering 'n eed moet aflê wat lui: "Ek verwerp alle dwalings...en beloof om dit te weerlê..." Iets rym nie!

Een van die antwoorde op dié vraag is dat "...post-moderne teoloë se verstaan van die Skrif van so 'n aard (is) dat daar nie veel van die Evangelie oorbly nie." Jesus se maagdelike geboorte en opstanding word verwerp; Sy kruisdood is 'n wrede daad van die Vader wat daarvoor gehaat moet word.

Die Bybel word "...nie meer beskou as die geïnspireerde Woord van God nie, maar as 'n versameling (van) bloot wat mense in die verlede oor God geglo het." Die Bybel is dus nie langer God se Woord vir die mens nie, maar die mens se woord oor God   -   'n radikale ommekeer.

Kriel beweer kerkleiers se onmiddellike reaksie is om "...te ontken dat daar fout is in die kerk" met 'n voorgee-gesindheid van, "Ons is tog almal téén dwaling". Kriel haal dr. Jan Grey aan wat sê "...sou die NG Kerk nie ...teen sodaniges (dwaalleer-teoloë) optree nie, sal dit beteken dat die Kerk...'n vals kerk geword het."

NG Kerk-lidmate het beslis die reg om te vra of dié kerk meedoen aan praktyke van dwaling.

Hierdie brief het in Die Burger (Oos-Kaap) van 02-03-2010 verskyn.

No comments:

Post a Comment