Thursday 11 February 2010

Nie helder, maar donker kol vir volk

Leopold Scholtz se artikel, "FW het in 1990 die onvermydelike gedoen" (DB,05.02), verwys.

Scholtz se stelling: "FW het 'n bloedbad voorkom", is egter debatteerbaar. Vele van ons onthou die "bloedbad-alternatief" as NP-referendumpropaganda en meganisme waarmee 'n begogelde kieserskorps geflous is, en waaragter NP-onderhandelaars hul gebrek aan staatsmanskap probeer verberg het. Wat laasgenoemde betref, het Mandela De Klerk by verre oorskadu. Waarom dit nie erken nie?

Scholtz se stelling dat "...die NP-verteenwoordigers kon in die onderhandelings meer bereik het...selfs met (die NP se) beperkings in ag genome, sou die onderhandelaars tog meer kon bereik het... (maar die NP se) grondwetlike foefies was naïef", is korrek. Hierdie NP-foefies is deur ewe naïewe kiesers met hoek én sinker gesluk.

Ook Scholtz se bewering "...dat FW nie sy eerste span ingestuur het nie, maar mense wat nie eens op die reserwebank van die derde span tuisgehoort het nie...(en) Roelf Meyer was pateties...", maak volkome sin. Geen wonder dat Cyril Ramaphosa stom van verbasing was oor die maklike NP-oorgawe nie.

In skril kontras met Scholtz, beweer Hermann Giliomee "...dat die wit mense en die Afrikaners in die besonder hom (FW) gevolg het, is 'n helder kol in hul geskiedenis"(DB,03.02). Sy "helder kol" is inderdaad 'n "baie donker kol" in die Afrikaner-volksgeskiedenis wie se verlede gekenmerk word deur 'n volgehoue vryheids- en onafhanklikheidstrewe; bekend as sy republikeinse ideaal soos verwesenlik in 1961, maar prysgegee in 1994.

No comments:

Post a Comment