Saturday 30 January 2010

Polemiek dien doel van waarheidsoeke

Terblanche se brief,  "Waarheen lei hierdie polemiek?" (DB,26.01.2010), verwys. In sy artikel,  "Evolusie op skool   -   wat staan 'n Christenouer te doen?", onderskei André van Zyl vier standpunte aangaande evolusie-onderrig op skool : diegene wat die lewenswerklikheid dualisties in geloofs-  en sekulêre kompartemente verdeel en derhalwe sowel die Bybel as evolusie aanvaar ; diegene wat glo dat God hulle deur evolusie geskep het ; diegene wat glo aan God se direkte inmenging met die onstaan van lewe, dog ook die "bewyse" en uitsprake van die evolusionêre  "wetenskap"  aanvaar ; en dan diegene wat uitsluitlik die Bybelse weergawe van die skepping aanvaar.

Volgens hierdie standpunt-indeling kan Terblanche homself iewers plaas, so ook die teoloog Julian Müller, volgens die titel van sy omstrede artikel , "Jy kan wel geloof en evolusie omhels".

Dit staan elkeen vry om te glo wat hy wil en verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Die kerk kan egter nie daarop aanspraak maak dat dit die liggaam van Christus verteenwoordig indien dit gemelde vier standpunte kompromie-makend tegemoet probeer kom nie. Vele Christene verkeer vandag in 'n toestand van onsekere geloofsverwarring aangaande die evolusiegeloof wat as  "wetenskap"  paradeer. Oor een ding is ons egter baie seker : dit is dat om verwarring te saai, 'n Satanies uiters suksesvolle werktuig is. Ons moet ook vra of die Bybel steeds die enigste fondament vir of van die kerk is, en of dit nie reeds deur  The Origin of Species  vervang is nie. Vir seker kan albei nie dien as basis vir die Christendom nie.

Tot tyd en wyl die kerkleiding standpunt inneem alleen op grond van die Bybel, sal Christengelowiges verward bly. Hopelik kan hierdie  "polemiek"  ons lei in ons waarheidsoeke.

No comments:

Post a Comment