Wednesday 6 January 2010

Vertolk gebeure vanuit die Skrif

Oase met sy daaglikse Bybelvers, neffens lesersbriewe, dien as uitnodiging om ook geloofskwessies met gelowige lesers te deel. Deel van hierdie besinning gaan vir my oor my verhouding as Christen met die  "wêreld" asook die besondere samelewing binne dié  "wêreld"  waarbinne ek myself bevind.

Dalk té optimisties, koester ek die verwagting dat die kansel ook die gebeure, neigings en die rigting waarin ons tans beweeg, nie polities korrek nie, maar vanuit die Skrif sal vertolk.

Die Ou Testamentiese Esegiël (22:25-31) wys onbevrees op die korruptheid van die regeerders, priesters, amptenare, profete en die burgers van sy dag. Ek vind egter géén soortgelyke interpretasies van ons dag in die Lig van die Woord nie. Waarom nie?

Ds. Riekert Botha se boekie,  Pleisters vir die siel,  beland as kersgeskenk in ons huis. In dié skrywer vind ek 'n gelowige wat reguit praat en géén doekies omdraai nie. Onder die vele antwoorde wat Botha op my vraag bied, vind ek hierdie toepaslike een :  "Dis nie ongewoon vir dominees om hulle hele benadering van God op teologie en filosofie te bou sonder 'n énkele persoonlike belewenis of verhouding met God nie."

No comments:

Post a Comment