Friday 22 January 2010

Evolusie-onderrig benut vir nasiebou

Die bydrae, "Evolusie is soos 'n 'gedagtebom' " (DB,22.01.2010), tot Brieweblad, verwys.

Evolusie-onderrig vind tans in staatskole plaas. Hoewel die evolusie-teorie aanwysbaar op geloofsgronde berus   -   die evolusiegeloof   -   word dit vir kinders voorgehou as onbetwisbare  "wetenskap".

Die ANC-onderwysowerheid dra hiermee 'n  "wetenskaplike, waardevrye en neutrale"  mens-  en wêreldbeskouing die skool en klaskamer binne met die invoering van die evolusieleer rustende op  "wetenskap". Van dié  "wetenskap"  sê prof. Philip Johnson van die Regsfakulteit van die Universiteit van Kalifornië dat vir evolusie-aanhangers  "...it is better to put up with a lot of bad science than to allow a Divine Foot in the door."

Weens die multi-religieuse samestelling van ons samelewing kan godsdiens   -   wat kwansuis op  "anti-wetenskaplike gevoel"  berus   -   nie nasiebou bevorder nie. Nasiebou word wel deur die  "neutrale wetenskap"  (evolusie-teorie) gedien waaromtrent ons dan glo almal sou saamstem. Dit is egter nié waar nie!

Ons kinders loop die ernstige gevaar om indoktrinerend gebreinspoel te word tot die aanvaarding van die ateïstiese evolusieleer, onderrig as onbetwisbare  "waarheid".

Die verskuilde boodskap in evolusie-skoolhandboeke is : die mens het oor biljoene jare  uit materie geëvolueer; hy is in wese 'n dier; hy het geen transendentale herkoms óf bestemming nie, en, sou daar sprake wees van geestelike norme, is dit nie Bybels-van-oorsprong nie, maar 'n sinkretistiese mengsel vanuit alle  "geëvolueerde"  wêreldgodsdienste.

Deur die invoering van die evolusiegeloof in staatskole, het die ANC   -   vir nasiebou-doeleinde op  "wetenskap"-grondslag   -   gekies vir materialistiese ateïsme wat God Drieënig uit die harte en verstand van ons kinders moet verdryf. Mag ons passief toesien hoedat dié breinspoeling ons kinders na die verderf lei? (ngn)
                                                                                                                                         

No comments:

Post a Comment