Friday 22 January 2010

Evolusie is soos 'n 'gedagtebom'

Jurie van den Heever se artikel,  "Die mens ondergaan steeds evolusie" (DB,16.01.2010), verwys. Diegene wat indringend nagelees het oor die evolusieleer sal saamstem met Pieter Pelser wat in sy boek , "Die Evolusie Illusie"  , die volgende sê :  "Evolusie is in wese niks minder as 'n berekende klap in die  'gesig'  van die Skepper nie."

Hal Lindsey verwys in sy boek , "Satan is springlewendig op die planeet aarde" , na die denkkonstruksies van mense soos Kant, Kierkegaard, Marx, Darwin en Freud as  "gedagtebomme"  met 'n geestelik vernietigende uitwerking op die ganse mensdom. Die Darwinistiese evolusiedenke is ongetwyfeld so 'n  "gedagtebom".

Wat het hierdie  "gedagtebom"  en die onlangse Haïti-aardskokke, gekenmerk deur grootskaalse lewensverlies, met mekaar in gemeen? Die antwoord is : verwoesting en dood   -   in laasgenoemde geval fisieke dood, en in eersgenoemde geval, geestelike dood.

Op 11 September 2001 het  3 000  Amerikaners in 'n aanval op New York gesterf waaroor die wêreldgemeenskap uiters geskok en verontwaardig was. Op dieselfde dag vind daar  4 500  aborsies in die VSA plaas, waaroor géén woord gerep word nie. Waarom nie?

Vir evolusioniste is die mens 'n  "geëvolueerde dier"  en nié Sy beelddraer en verteenwoordiger nie, en daarom mag van die  "ongewenstes"  ontslae geraak word. Oor die duisende sterftes in Haïti rou die wêreld, met reg, maar oor die stille  geestelike dood  wat Christenverbondskinders geleidelik in skole en klaskamers sterf vanweë evolusievergiftiging, word geswyg. Selfs ons kerk-  en geestelike leiers swyg soos die graf.

Is dit om híérdie leiers se nekke wat meulstene gehang moet word sodat hulle in die diepsee kan wegsink? (Matteus  18:6)

No comments:

Post a Comment