Saturday 16 January 2010

Hoe lyk nie-rassige Afrikaanse volk?

Donald Smiles se brief,  "Afrikaanse volk kan SA nasie lei" (DB,08.01.2010), verwys.

Die kristallisering van die volgende twee gedagtegroeperings word toenemend duideliker : enersyds diegene wat hulle beywer vir die onveranderde behoud van die Afrikanervolk   -   onderskeibaar en identifiseerbaar   -   met sy unieke Europese herkoms, eie geskiedenis en kultuurerfenis en, andersyds, diegene wat 'n  "nie-rassige Afrikaanse volk"  voorstaan.

Onder laasgenoemde voostanders tel Gaum vir wie  "...die tyd van 'n wit Afrikanerdom verby is..." (DB, 16.12.2009). Hy spel egter nie uit wát hy met 'n  "nie-rassige Afrikanervolk"  bedoel, veral teen die agtergrond van 'n  "wit Afrikanerdom"  wie se tyd verby is, nie. Elkeen moet dus maar sy eie afleidings hieruit maak en, soos 'n vrou in skamele drag geklee, laat Gaum se suggesties nie veel aan die verbeelding oor nie. Hy word hierin deur Smiles ondersteun  "..sodat veelrassigheid kan plek maak vir nie-rassigheid".

Wil die here Gaum en Smiles, en hul geesgenootlikes, dit nie vir ons duidelik uitspel wat hulle presies bedoel met  "nie-rassigheid"  ,  "Afrikaanse volk"  en die verband tussen dié twee aangeleenthede nie, want dit is, volgens Smiles, die twee sake wat  "...die Suid-Afrikaanse nasie (kan) lei...tot eenheid."

Intussen sê die Afrikanervolksgroepering vriendelik maar beslis dankie, maar nee dankie, vir deel wees van 'n   "nie-rassige Afrikaanse volk"  alvorens dit eers baie duidelik uitgespel is, en daar gevra is, na die toekomstige implikasies van sodanige deel-wees ; die Afrikanervolk durf nie onverskillig staan teenoor sy toekoms nie.

Ons wil net ons self bly ; niemand van enigiets beroof nie, maar ook nie toelaat dat óns van óns duurverworwe en unieke identiteit beroof word nie.

No comments:

Post a Comment