Verdien ons landstale nie die SA-owerheid en -burgery se dringende besinning aan die begin van 2013 nie? Menswees sonder taal is haas ondenkbaar. Ons bly noodwendig lewenslank taalgemoeide wesens. Taal is lewe. Dit is dié sleutel wat ons potensiaal ontsluit, en die grondvoorwaarde daarvoor. Taal, denke en bewussynslewe is aaneen geskakel. Alleen deur taal kan ek toenemend 'n "greep" kry op die wêreld waarin ek my bevind, want niemand kan vérder dink of ánders dink as wat sy taal hom toelaat nie.
Daar word geredelik maklik van versoening in SA gepraat, maar het iemand al ooit 'n realistiese roete na dié hersenskimmige bestemming uitgewerk? Taal is ongetwyfeld een so 'n determinant op dié versoeningsroete. Dit beteken, eerstens, dat alle landsburgers terdeë sal besef wat die unieke doel en waarde van taal is, en dat dit die demokratiese reg van elkeen is om vry te wees om sy potensiaal maksimaal in sy eie taal te kan ontwikkel. Begrip daarvoor, insig daarin en die erkenning daarvan, lei tot respek vir mekaar se tale. Tweedens sal die vergunning van bestaansruimte vir ons tale méér kan bydra tot ons gemeenskaplike ontwikkeling en vooruitgang. Om tale te degradeer tot tweedeklas-tale, lewer géén bydrae tot versoening nie.
Deur middel van 'n grootskaalse nasionale opvoedingsprojek behoort alle landsburgers - in 'n veeltalige land soos SA - tot groter taalbewustheid, -begrip en -respek gebring te word vir mekaar se tale as determinant ook tot bemagtiging met die oog op 'n beter toekoms vir almal. Alleen sodanige taalbesef kan 'n noodsaaklike bydrae lewer tot nasionale versoening. Ons tale moet in landsbelang ontwikkel word; nié om ideologiese gewin ver(s)moor word nie.
Mag 2013 gekenmerk word deur 'n toename in insig dat taal, as kritieke determinant, 'n onmisbare versoeningsrol in ons veeltalige land te speel het. (ngn)
No comments:
Post a Comment