Twee bevriende oupas en oumas neem hul voorskoolse kleinkinders vir swemles. Ons raak aan't gesels oor die eie kinders se kleintyd, hul grootword en dat hulle oorsee 'n heenkome en toekoms gaan soek het. Met beide se oorsese kinders gaan dit, dank die Here, baie goed, soveel so dat hulle ons op hul koste na hulle toe laat vlieg.
En so word die gesprek weldra gevoer oor gemeenskaplike ervaringe rondom vlieg, lughawens, wonderlike geriewe en asemrowende moderne vooruitgang in die lugvaartbedryf. So vertel ek my gespreksgenoot, op my beurt, van my ervaring in 2009 op die Dubaise lughawe. Ek en my vrou sit en wag vir 'n aansluitingsvlug na Heathrow. Oorversigtig soos ons is, is ons geruime tyd voor die vertrektyd by die instaphek. Daar gekom, is daar reeds 'n man en sy vrou. Ons gaan sit, en weldra hoor ons hulle praat Afrikaans - altyd opwindend om Afrikaans in die vreemde te hoor.
Goed, beide pare synde Afrikaanssprekend, begin ons gesels. Ter aanvang vra die vrou my: Maar is u nie mnr.Breitenbach nie? Ja, sê ek, heeltemal onkant betrap, en, o gits, wat gaan nou volg? Vanwaar ken sy my en waarvoor onthou sy my? Ek het vir haar op Ugie in Kapaailand (Noordoos-Kaap) - 42 jaar gelede op daardie tydstip - skool gehou toe sy 'n standerd ses-leerling was. Wat 'n heerlike verrassende weersiens was dit nie na soveel jare nie. Meteens is die dorre Dubaiwoestyn, figuurlik gesproke, lowergroen - Kapaailand groen. Die les daaruit? Verrassings, verkieslik aangenaam, wag soms op onverwagte plekke, daarvan kan vele mense sekerlik getuig.
No comments:
Post a Comment