Wednesday 9 January 2013

Kan ons die bolliedebat nou maar eindig?

Ag, kan ons nie maar nou so stadigaan die reeds wekelange debat oor hondebollie begin afsluit nie, dog nie my wil nie, maar die wil van die skrywers daaroor   -   en die lesers daarvan   -   geskied. Het die rakleeftyd van dié meningswisseling nie dalk reeds die vervaldatum bereik nie? Ja, ek wéét ek hoef nie alle bollie te lees nie; tog dwing my weetgierigheid my daartoe, en voel ek myself aangeland by 'n stadium waar ek dit nie veel langer sal kan doen sonder 'n paar spuite lugverfrisser om al die bolliereuke te verdryf nie.

Ek is bewus daarvan dat dit hier nie primêr om hondebollie gaan nie, maar wel om botsende belange ten opsigte van mense se opeising van hul regte. Waarom nie 'n oplossing soek en vind deur regte-uitklaring nie, en sodoende voorkom dat Brieweblad 'n volgehoue stortingsterrein vir 'n klomp onwelriekende bollie word? Waarom nie eerder die bollie-fokus verskuif vanaf hondebollie (in persoonlike konteks) na die JZ-bollie van ons dag (in nasionale konteks) en laasgenoemde bollie probeer verdryf, soos 'n Silkaats (Mzilikazi) van ouds, na Bollieland noord van die Limpopo nie?

Terloops, ek is 'n hondeliefhebber wat nie fout te vind het met honde aan 'n leiband, en 'n eienaar met 'n bolliesakkie in die hand, langs die see nie, maar net nie naby baaiers en hul besittings nie. Wat van afgebakende strandgebiede vir honde? (O, gits, nee! Dit herinner aan apartheid.)

(Nie ingesluit by dié skrywe aan die pers nie, die volgende: Dit is opvallend watter reaksie die toelaatbaarheid van honde op strande ("gedra" deur die simboliek van "hondebollie") by mense kan uitlok in kontras met aktuele aangeleenthede van 'n nasionale omvang en belang waaroor dieselfde mense nie standpunt in die pers inneem nie. Waarmee het dit te doen? Is dit 'n kwessie van reaksie slegs op dié dinge wat met my as indiwiduele persoon te doen het, en slegs eiebelang raak soos "my regte" wat te na gekom word, en ongevoelig en apaties staan oor die groter sake van 'n wyer omvang? Is dit 'n weerspieëling van "tonnelvisie" op die breër nasionale landskap? Is dit 'n "venster" op die prioriteite van die kontemporê samelewing wat iets soos "Elkeen vir homself en..." te kenne wil gee? Waaraan moet dit toegeskryf word? Dié "hondebollie-storie" is slegs 'n voorbeeld van meerdere soortgelyke terreine in ons samelewing waarop mense sal reageer, eerder as op gebeure wat ons almal raak.)




2 comments:

  1. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
  2. Tommie skryf vir die klomp hulle moet ophou sanik en eerder ‘n kat aanskaf - geen 'bollie' probleme nie . Om ‘n kat aan te hou vereis ook nie van die eienaar om met haar te gaan stap nie - eintlik het katte nie eienaars nie, jy is húlle eiendom...:))

    Tommie ek dink die tonnelvisie wat jy noem kan seker ook toegeskryf word aan 'n soort van ontkenningssindroom, hoe slegter dit gaan hoe meer fokus ‘n mens op ander minder lewensbedreigende en belangrike dinge...maar dan wil ek ook byvoeg, en verskoon as dit weer oor 'honnebollie' gaan, om onverhoeds in 'n slagyster te trap en veral as dit jou buurman se hond is wat gereeld sy slagysters op jou grasperk kom plant kan dit wel lewensbedreigend wees – vir jou buurman natuurlik...

    (Ek hoop ek kry nou my possie geplaas)

    ReplyDelete