Met sy slotartikel, "Dra ander se geloofstaal" (Beeld,07.01), sluit prof. Wilhelm Jordaan sy wekelange debat oor kerkspanning - tussen tradisie en vernuwing - met "Die gesag van die Bybel" en "Christus se betekenis", as debatstemas, af. Hy noem die twee deelnemende debatspartye "tradisievastes" en "vernuwers".
Vir Jordaan, as uitgesproke "vernuwer", is die Bybel 'n geskrif wat "herinterpretasie vra om aan te sluit by hedendaagse behoeftes...(van) mense met 'n (post)moderne wêreldbeeld" omdat God " 'n ontvouende misterie" is. Hy sê: "Ons weeg, laat weg, voeg by en brei uit op bestaande Bybelgedeeltes" en vind dit "opwindende geloofswerk". Met betrekking tot Christus sê hy dit verg "die bereidwilligheid om saam te leef met teenstrydigheid en dubbelsinnigheid, en met ou tekste se eietydse betekenismoontlikhede...(en) daaruit kom baie soorte toelaatbare antwoorde..." vir die kerk - selfs antwoorde wat mekaar weerspreek?
Jordaan noem tradisie en vernuwing twee "geloofstale" in die kontemporêre kerk, en vra dan hoe gemaak "met die verskille én geskille" tussen dié twee "geloofstale". Hy sien die antwoord in wedersydse verdraagsaamheid as "die hart van die 'integriteit van toewyding' " (geloofstoewyding). Beteken dit dat as jy jou nie onvoorwaardelik oorgee (toewy) aan verdraagsaamheid teenoor geloofsverskille nie, dat jou eie "geloofstaal" se integriteit dan bevraagteken kan word?
Jordaan beweer verder: "Terwyl ek ánders as jy dink, dra ek jou geloofstaal saam asof dit myne is." Dit kom beslis voor as onrealistiese wensdenkery. Dit skyn asof verskille in geloofsdenke - soos dit uitmond in "geloofstaal" - vir hom 'n aangeleentheid van "tese" (ek dink en glo soos wat ek wil), "antitese" (jy dink en glo soos wat jy wil) en "sintese" (onvoorwaardelike verdraagsaamheid teenoor geloofsrelativisme) verteenwoordig. Wil hy daarmee die kerkspanning deur middel van geloofsrelativering oplos? Nee; yster en klei meng nie. (ngn)
No comments:
Post a Comment