Monday 20 January 2014

Is dít ons toekomsideaal vir Afrikaans?

Die artikel, "Afrikaans moet meer inklusief raak' (DB,18.01), het betrekking. Hierin word 'n pleidooi gelewer vir die afwaartse aanpassing van standaard-Afrikaans omdat "gestandaardiseerde Afrikaans verteenwoordig nie die hele Afrikaanse taalgemeenskap nie... moet meer inklusief...(en) so soepel moontlik gemaak word."

Die heersende tendens in S.A. is om standaarde afwaarts aan te pas en só die ideaal en strewe na uitnemendheid te vervang met middelmatigheid. Word Afrikaansgebruikers se taalvesel in -konteks gekenmerk deur 'n toenemende gebrek aan ambisie vir opheffende vooruitgang deur dié taal?

Daar bestaan 'n onbetwisbare verband tussen taal, denke en intellek. Ons giet ons denke in intellektuele taalvorm. Ons woordeskat bepaal nie net die horisonne van ons taallandskap nie, maar ook die berg-  en vlaktelandskappe daarvan. Binne die Afrikaanse taallandskap vind ons berg-  én vlaktebewoners. Binne dié landskap is daar onteenseglik verskillende denk-  en taalvlakke. Die hoëre vlakke dien as inspirasie vir die laere vlakke om daarheen uit te styg.

Is die bestaan van "Kaaps- of Griekwa-  of Overberg-Afrikaans" nie juis 'n duidelike aanduiding van hoedat die Afrikaanse taal binne dié taallandskap homself reeds,gedifferensieerd, "soepel" manifesteer al na gelang van die taalbehoeftes van -gebruikers wat hulself op verskillende vlakke binne dié landskap bevind nie? Wil die toonaangewende taalleiers nou van ons almal bewoners van die taalvlaktes maak? 'n Belangrike vraag is derhalwe óf ons berglandskap-bewonende taalaristokrate   -   soos filosowe, skrywers, digters, akademici en vertalers   -   hul moeitevol verworwe taalomgewings moet verlaat en verhuis na die beperkende horisonne van die taal-  en denkvlaktes?

Ontbreek die psigiese vitaliteit om deur opeenvolgende taalplato's na hoër  -hoogtes te reik omdat 'n vlaktetaallewe geïdealiseer word? Verlaging van standaard-Afrikaans sal die huidige algemene landswye standaardverlaging, groter taal-  en denkluiheid, en 'n donkerwordende taaltoekoms in die hand werk. Is dít ons toekomsideaal vir Afrikaans?






No comments:

Post a Comment