Monday 13 January 2014

Waak in 2014 teen ANC-denkmanipulering

Hoe sien die, reeds grootliks, deur ANC-getransformeerde denke van ons burgery na twintig jaar daaruit? Dat daar gedurende die afgelope twee dekades 'n doelbewus beplande en strategiese denkverskuiwing   -   denkmanipulasie deur die aanwending van alle beskikbare middele én geleenthede tot nasionale denkindoktrinasie   -   van die bevolking plaasgevind het, is gewis. 'n Andersoortige SA-denkingesteldheid móét gevestig word.

Hierdie denkverandering is nié, soos sommige wil glo, enigsins denkvernuwend nie. Ruil ek my bestaande motor in vir 'n gebruikte motor, is laasgenoemde beslis geen nuwe motor nie. ANC-denke konvergeer in monopolistiese magsoorname, -sentralisasie en  -beheer. Hierdie denktipe, waarby die burgery móét aanpas, is uitgediende denke wat elders ter wêreld reeds misluk het soos wat die ANC se uitkomsgebaseerde onderwysdenke óók klaaglik misluk het.

Onlangse voorbeelde van die ANC se pogings tot denkmanipulasie van die SA-bevolking, met die oog op die komende verkiesing ter wille van magsbehoud, is: die Mandela-afsterwe en  -routydperk; hoogsverdagte matriekslaagsyfer; twyfelagtige padsterftesyfer; belofte van grondwetwysiging en stemkopery met beeste, alles om die ANC-denkbeeld te bou. Die nasionale denke word gemanipuleer om, verslawend,  soos die ANC te dink en te glo. Hoe stop ons dié ANC-(ver-)trapmeul of klim ons daarvan af? Beide lyk onwaarskynlik.

Hoe gaan Christengelowiges dié nasionaal ANC-denktransformasie en  -bombardement in 2014 tegemoet? Synde deel van ons ganse bestaan, herinner die Bybel ons aan dié toepaslike vraag: "Wat sal ons dan van hierdie dinge sê?" en voorsien ons ook van 'n antwoord: "As God vír ons is, wie kan teen ons wees?" (Rom.8:31). Laat Hy daarom ons denke in 2014 verlig en laat ons nie ons self leen tot ANC-denkmanipulering nie.




No comments:

Post a Comment