Die afgelope kersgety het ons weer eens self gelees, van die kansel gehoor en gesing van die skaapwagters in die Efrata-velde wat die Opperherder gevind het in 'n stal in Betlehem "wat vir my volk Israel 'n herder sal wees' (Mat.2:6b).
In Johannes 10 wys Jesus self vir ons op twee tipes herders. Van die goeie herders sê Hy dié gaan by die hek van die skaapkraal in; die skape ken en luister na sy stem; roep hul op hul name; loop voor en hulle volg hom; sy skape volg nie vreemde herders nie, maar hardloop van hulle af weg, en hy is bereid om sy lewe af te lê vir sy skape.
Die huurling-herder is geen herder nie; dit is nie sy eie skape nie; kom 'n wolf, hardloop hy weg; laat toe dat die wolf die skape vang en uit mekaar jaag, en bekommer hom nie oor hulle nie.
Vandag tref ons nog steeds dieselfde twee tipes - lidmate kan wel deeglik tussen hulle onderskei - onder ons eietydse predikante-herders aan: beroepsherders en geroepe herders. Soos Demas van ouds (2 Tim.4:10) val ook sommige moderne herders wêreldbekoring ten prooi. Maar dan is daar ook die steeds kleiner wordende groep van geroepe predikante-herders wat - soos koning Hiskia die profeet Jesaja versoek het: "Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is" (2 Kon.19:4b) - dieselfde versoek ook vandag tot ons rig. Laat ons dié herders in die nuwe jaar in ons gebede hierin ondersteun.
No comments:
Post a Comment