Friday 13 December 2013

Ouer garde se geheuespatsels van Mandela

Sal enige kritiese kommentaar oor oud-pres. Nelson Mandela, hoe onweerlegbaar waar ook al, in hierdie tyd deur die S.A. openbare media geduld word? Dit lyk baie onwaarskynlik, dog dit is egter 'n baie belangrike toetsvraag vir die onpartydigheid, billikheid en balans   -   te enige tyd én omstandighede   -   in beriggewing.

Dit is verkeerd en onaanvaarbaar om 'n glanspersoonlikheid, soos Mandela, sy glansoomblikke te ontneem, dog die grens van eerbetoon is lank reeds oorskrei en spoel oor na blote mensverheerliking waartoe die media fluks bydra.

Wat sommige van ons senior burgers   -   wat die verlede eerstehands beleef het en beslis veel beter ingelig is as die huidige geslag   -   egter pla, is die verstommende eensydigheid waarmee Mandela aan die wêreld voorgehou word asof hy nie ook 'n verlede het wat in skrille kontras staan tot die teenswoordige geprojekteerde beeld van hom nie. 'n Wanbalansige voorstelling hou die risiko en gevaar in dat dit 'n breinspoelende effek op ons eensydig ingeligte kinders en jongmense kan hê waardeur hulle van hul eie kultuur-   en volksgenote vervreem kan word.

Lesers kan my gerus reghelp, maar ek kan my geen geleentheid herinner wat Mandela die daad by sy populêrgeworde woorde van vryheid, vergiffenis en versoening gevoeg het, en na sy uittrede as staatshoof, die ANC-partyleiers aangespreek het oor die eskalerende misdaad, korrupsie en plaasmoorde in S.A. nie. As 'n intellektuele en belese persoon was hy sekerlik nié oningelig daaromtrent nie.

Dit moet ons ouer garde   -   jarelange koerantlesers en  -ondersteuners   -  nie verkwalik word dat ons oor geheuespatsels beskik van Mandela as 'n vroeëre aanhitser tot geweld, terreur en  -dade wat gelei het tot die dood en verminking van etlike S.A burgerlikes nie. Durf ons nalaat om ook húlle in dié tyd in herinnering te roep en ook húl nagedagtenis te eer?                    (ngn)




1 comment:

  1. Baie waar Tommie! My oorlede man was verbonde aan militêre intelligensie in daardie tyd - kennis wat toe opgedoen is, is moeilik te versoen met die "hype" wat veroorsaak word deur alle vorme van die MEDIA. Dit is hoofsaaklik oningeligte jonges wat die (valse) eensydigheid aanhang.

    ReplyDelete