Wednesday 18 December 2013

Is Afrikaners dan blind vir misleiding?

Uit talle monde word verneem van diepe teleurstelling met die NG Kerk. Na jarelange integrale deelwees van ons volk, dikwels inisiatiefnemend met Geloftedagfeesvieringe, keer dié kerk nou sy rug op die Afrikanervolk. Die kerkleierskap gee geruime tyd reeds blyke van sy dissosiasie en distansiëring van ons volk, maar nou het dit deurgewerk ook tot op gemeentevlak.

Verlede jaar nog kon feesvierende volksgenote, op 'n jaarlikse rotasiegrondslag, 'n Geloftedag-erediens by een van ons plaaslike gemeentes bywoon. Op ons gemeente-almanak word nou slegs vermeld dat sodanige byeenkoms in die Hoërskool Despatch-skoolsaal bygewoon kon word   -   nie meer in gemeenteverband nie.

Wat leer die Bybel ons van volke en volkwees? Deuteronomium 32:8 sê duidelik: "Toe die Allerhoogste...die mense in volke opgedeel het, het Hy vir hulle hulle grense bepaal." Begrensde volke is Godgewil. Ons lees dat Petrus by uitstek die apostel met opdrag vir sy Joodse volksgenote was, soos Paulus vir die nie-Jode. 

Die NGK-leierskap keer sy rug toenemend op hierdie Goddelike instelling deur die ontkenning van volkwees. Hulle laat hulle kenmerk aan 'n onbybelse anti-volkse gesindheid. Soos die reeds vernietigde NP, word ook die NG Kerk se denke deur anti-volkse sentimente onderlê. Net soos die NP, gaan ook die NG Kerk vernietiging tegemoet.

Die kerkleierskap skaam hulle vir hul volkse kerkverlede in die geselskap van hul nuwe SA-vriendekring. Steun kan daarom nie langer aan volkse aspirasies verleen word nie, dog dié kerk verwag volksteun vir sy wêreld-ekumeniese aspirasies ten einde deel te word van die Nuwe Wêreldorde se kerklike tentakel.

Vanuit kerklike geledere kan Afrikaners géén volksleiers   -   soos wyle dr.D.F.Malan   -   te wagte wees nie. Die huidige korps van beroepspredikante, beïnvloed deur hul kerkleiers, bind toenemend die naelstring tussen kerk en volk af. Is Afrikaners dan regtig só blind vir misleiding, dié keer deur kerklike leiers?




1 comment:

  1. Baie goeie plasing Tommie. Hulle ly aan 'n verskynsel wat op verskeie plekke in die Byble genoem word - onder andere deur Jesus self in Mat 13:15.

    "Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’ "

    Dit is 'n aanhaling uit Jes 6:9-10. Dieselfde gedagte word uitgespreek in Mark. 4:12; Joh. 12:40 en Hand. 28:26-27.

    ReplyDelete