Ek het oor RSG verneem dat wyle Mandela as die grootste S.A. leier ooit gereken word. Ons besef dit is nou 'n hoogs emosionele tyd waarin rasionaliteit plek moet maak vir euforie, emosiegelaaide uitsprake en stellings rondom die persoon van Mandela. Dit is ook 'n tyd van erkenning aan dié wêreldikoon wat etniese, rasse en nasionale grense oorskrei. Daar is begrip vir die teenswoordige heldeverering. Dit kom universeel voor, en ons weet dat dit altyd net goeie mense is wat begrawe word.
Ek vermoed dat daar wittes sal wees - veral volkse Afrikaners - wat oor Mandela voel soos wat heelwat swartes oor wyle dr. Verwoerd voel. Dit impliseer die dekadelange uitgerekte konfrontasie tussen swart Afrika-nasionalisme en wit Afrikaner-nasionalisme. Dit blyk onvermydelik te wees dat Afrika-nasionalisme, gesteun deur die wêreldmening, uiteindelik dié stryd sou wen.
Die Mandela-sterwe konfronteer ons met talle vrae wat wag op antwoorde in die toekoms. Van dié vrae is óf Mandela, soos beweer word, gereken kan word onder die geledere van internasionale staatsmanne wat ook buite die eie landsgrense, soos 'n Jan Smuts as medestigter van die VVO, bygedra het tot die internasionale gemeenskap. Sou Mandela dieselfde bekendheid verwerf het indien S.A. kort ná WO2 gekapituleer en voor Afrika-nasionalisme geswig het? Hoeveel Afrika-bevrydingsleiers word vandag nog deur die wêreld onthou? Het die vorige bedeling nie die tyd "ryp gemaak" vir Mandela waarin hy as bevryder na vore kon tree nie? Is sy roem aan apartheid te danke?
Dié tyd konfronteer ook volkse Afrikaners met vrae soos: is dié volk se rol uitgespeel in S.A.? Wat het geword van ons bewese historiese drang na volksvryheid, -onafhanklikheid en -selfbeskikking? Gaan ons volksidentiteit behoue bly? Het ons nageslag nog 'n toekoms in S.A.?, en dergelike meer volksoorlewingsvrae. (ngn)
No comments:
Post a Comment